Amahle Jemane (gr. 12), Jordan Raubenheimer (gr. 11), Carlos Boland (gr. 8), Christy-Ann Ruiters (gr. 10) en Mart- Mari Cloete (gr. 9) van die De la Batskool in Worcester spreek hul opgewondenheid in Gebaretaal uit.

Credit: SYSTEM

Die nasionale vergadering het onlangs ’n wetsontwerp goedgekeur wat Suid-Afrikaanse Gebaretaal die twaalfde amptelike taal in die land maak nadat dit reeds verlede jaar as ’n konsepwet vrygestel is om kommentaar op te lewer.

Die wetsontwerp is verlede week aanvaar met 306 stemme ten gunste daarvan en geen daarteen nie.

Die aankondiging hou aansienlike voordele vir die Dowe gemeenskap in, waarvan die grootste die wetlike beskerming vir Dowes insluit.

Nog ’n voordeel is dat Suid-Afrikaanse Gebaretaal deur middel van tolkdienste in regsgedinge bekend gestel moet word en verder in onderwys en gesondheidsorg aangemoedig word.

Volgens Lynette Victor, administratiewe projekbestuurder by die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) is die instituut “trots” op hierdie stap.

“Hierdie stap verskaf baie voordele. Dit gee dowe individue en mense met gehoorverlies die reg om doof- toeganklike dienste by hospitale, banke, polisiekantore en ander [openbare plekke] te ontvang,” het sy gesê.

Sy het ook verduidelik meer mense sal vanweë dié wetsontwerp bewus raak van tolkdienste en daarvan gebruik maak om kommunikasie tussen horendes en dowes te help verbeter.

“Dowes voel trots op hul moedertaal, en noudat dit een van Suid-Afrika se amptelike tale is, selfs nog meer. Ons het lank in spanning op hierdie groot stap gewag,” het Victor gesê.

Johan Pretorius, die provinsiale bestuurder van DoofBlindSA se Wes-Kaapse kantoor, het verduidelik die organisasie het saam met DoofSA ’n jare lange stryd gestry om Gebaretaal as ’n amptelike erken te kry.

“Dowes is nou ingevolge die Grondwet geregtig om op hierdie wyse geakkommodeer te word. Dit is tot nou as ’n spesiale versoek hanteer,” het Pretorius gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article