’n Gansbaaise man van byna 70 is Saterdag deur die Robertson-polisie vasgetrek met perlemoen ter waarde van honderde duisende rand in sy voertuig.
Die 69-jarige man is Saterdag deur beamptes van die Robertson-polisie in hegtenis geneem nadat vertroulike inligting ontvang is oor die onwettige vrag wat vervoer word.
Die Wes-Kaapse polisiewoordvoerder kapt. FC van Wyk het bevestig betroubare inligting is ontvang oor ’n Suzuki Swift wat perlemoen vervoer en na die Robertson-omgewing op pad is.
“Die voertuig is in Bonnievale by die Rooibrug opgemerk, waarna die polisie vinnig reageer het. “
Van Wyk het gesê die verdagte voertuig is in Voortrekkerweg, Robertson, deur die polisie gewaar en toe die verdagte die polisie sien, het hy probeer vlug.
“Die voertuig is by die Shell-garage in Robertson voorgekeer en deursoek en die polisie het op altesaam 1 247 perlemoene in die voertuig beslag gelê,” sê Van Wyk.
Die waarde van die perlemoen is ongeveer R347 265.
Die verdagte het Maandag in die Robertson-landdroshof in verband met die onwettige besit van perlemoen verskyn.





