Diegene wat die Frieda-karakter in die plaaslike verhoogproduksie Huismoles kan onthou, wat in Augustus op die planke gebring is, kan nog ‘n bederf verwag.
Dié karakter en haar boeiende storie- lyn het die gehoor so beïndruk dat die skrywer, regisseur en vervaardiger, Neville Wentzel van nevCproductions, besluit het om die vergrootglas in sy jongste verhoogproduksie, Frieda, hoofsaaklik op haar te plaas.
Wentzel is ‘n voormalige kreatiewe kunsonderwyser by Victoriapark Primêre Skool in Worcester.
“Mense het al gevra of Frieda ‘n opvolg van Huismoles is. Nee, dit is nie. Die Frieda-karakter was heelwat kleiner in Huismoles. Ek het net gevoel sy het ‘n lewe om te vertel en moet groter uitgebeeld word,”sê Wetzel.
“In Frieda val die fokus grotendeels op die karakter se huishouding, haar kinders en haar verhouding met haar man en bure.
“Frieda kry besonders swaar. Sy probeer haar gesin bymekaar hou, want daar is verskeie euwels, waaronder mishandeling en drank- en dwelmmisbruik, wat die huishouding uitmekaar skeur.
“Dis moeilik vir haar om dit vrou-alleen bymekaar te hou. Dit alles word in Huismoles aangepak, maar in Frieda word dit haar eie storie.”
Wentzel sê die rolverdeling bestaan uit altesaam 12 akteurs.
Hy sê voorts ‘n paar karakters van Huismoles sal weer hul verskyning in Frieda maak. Dié karakters sluit in Ant Stienie, Oom Bert, Benjamin, Chicken en Spike.
In Frieda word Oom Bert dié keer deur Allister Pienaar vertolk, en Benjamin deur die agtjarige Tyler Brandt.
Van die nuwe karakters in Frieda sluit in die maatskaplike werker, Moira, wat vertolk word deur Ronell van der Sandt; Benjamin se onderwyseres, Juffrou Briesie, vertolk deur Juanel Millen; en Frieda se verhuurder, Ant Lis, vertolk deur Molly Brandt.
Wentzel sê wat die gehoor uit hierdie verhoogproduksie moet leer, is onder meer dat mense vir hul dade aanspreeklik gehou moet word en dat ‘n mens begrip moet hê vir dit waardeur ander mense gaan.
Hy sê in Frieda is daar ‘n kombinasie van komiese en hartseer oomblikke.
Soos met Huismoles raai Wentzel die gehoor aan om maar ‘n sneesdoekie saam te bring.
“Die mense moet kom kyk. Dis ‘n storie wat ons daarbuite wil hê.”
Frieda word van 5 tot 7 Junie in die Klein Teater in Russellstraat in Worcester opgevoer. Die verrigtinge begin stiptelik om 19:00.
Kaartjies kos R150 per persoon en is beskikbaar by Quenet’s Apteek in Hoogstraat, Worcester.
Geen kaartjies sal by die deur te koop wees nie. Die drag is formeel.





