Charl en Laetitia Smith sowat 24 uur voor die amperse verdrinking.


’n 52-jarige vrou is byna dood nadat sy in haar swembad flou geword en amper verdrink het.

Vrydag 27 Januarie was ’n besonder warm somersdag in Worcester, en soos talle ander het Laetitia Smith omstreeks 17:00 besluit om in haar swembad af te koel. Wat egter as ’n ontspannende aktiwiteit begin het, het in ’n oogwink in ’n noue ontkoming ontaard.

Terwyl Laetitia geswem het, het sy skielik duiselig begin gevoel en gespartel om uit die water te klim. Dit is toe sy egter flou geword het.

“Al wat ek onthou, is dat ek begin sleg voel het. Ek dink ek wou nog my man, Charl, roep om te kom help, maar wou self uitklim. Toe ek my oë oopmaak, was ek in die hospitaal.”

Charl was op daardie tydstip in die huis doenig en het minute nadat sy flou geword het, uitgegaan en haar beweginglose lyf in die water gekry.

“Ek was uit om te hoor of sy iets wou drink. Ek het haar daar sien lê en groot geskrik. Ek het dadelik ingespring om haar te probeer help. Sy was blou in die gesig. Ek het haar uitgehaal en probeer mond-tot-mond-asemhaling toepas, maar niks wou werk nie. Die buurman het bewus geword van die situasie en oor die kantmuurtjie gespring om te kom help. Hy het ook die ambulans gebel,” het Charl aan Standard vertel.

Die ambulans was binne enkele minute op die toneel en het haar dadelik na ongevalle gehaas.

“Haar lyf het slap begin geword en die ergste het deur my kop gegaan. Ek het dadelik daarteen baklei, want ek wil nie my vrou verloor nie. Daar is nie ’n manier wat ek ooit sal kan toelaat dat sy die aarde voor my moet groet nie,” het Charl bygevoeg.

Die dokters het haar dadelik begin behandel en sy het sowat ’n halfuur later eers haar bewussyn herwin. Sy was egter net vir paar minute by toe haar longe begin platval het.

“Die dokters het ons ingelig iets is fout met haar linkerlong en hulle was bang vir breinskade. Al opsie was ’n operasie. Ek het nog nooit so hard in my lewe gebid nie. Die trane het onophoudelik gevloei, want my vrou is my rots.”

Die mediese span het onvermoeid gewerk om haar aan die lewe te hou en haar toestand te stabiliseer, maar die prognose was in onsekerheid gedompel.

Sy is ná sowat twee ure in die teater na ’n kamer verskuif en haar toestand is voltyds gemonitor. Familie en vriende het by haar bed gewaak en gebid vir haar herstel. Dit was ’n gespanne en emosionele tyd vir haar geliefdes, maar uiteindelik het sy die Sondag tekens van verbetering begin toon. Sy het haar bewussyn stadig herwin en op behandeling begin reageer.

Maandagoggend het sy wakker geword en was vreeslik deurmekaar.

“Ek was nog nooit so bly nie. Sy is ’n vegter. Dit was ’n wonderlike gevoel,” het Charl vertel.

Die dokters kon egter deur bloedtoetse bepaal die vermoede bestaan hoë bloeddruk en dehidrasie kon tot die voorval bygedra het. Sy is egter dankbaar sy is vandag lewend.

Sy is verlede Donderdag (2 Februarie) ontslaan.

“Ek was baie deurmekaar en die hele ervaring is nou nog vir my skrikwekkend. Ek onthou nie veel nie, maar net dat ek en Charl vreeslik gehuil het toe hy my vertel wat met my gebeur het. Ek is dankbaar vir elke liewe mens wat gebid het, my probeer help het, die dokters en natuurlik die Here,” het sy aan Standard vertel.

Laetitia, ’n tuisteskepper, se man is ’n langafstand-vragmotorbestuurder en is net sowat tien dae per maand tuis. Sy het daarom besluit om by haar suster en swaer op ’n plaas net buite Worcester te gaan aansterk.

“Dit kon soveel erger gewees het. Ek swem gereeld en die kinders is al uit die huis uit.

“Ek is baiekeer alleen.

“As ek daardie dag alleen was, sou ek gewis nie vandag meer hier gewees het nie. Ek sukkel nog met my asemhaling en kry behandeling en fisioterapie daarvoor. Ek het ook ’n hele sak pille wat ek elke dag drink,” het sy verder vertel.

Sy het bygevoeg sy wil die lewe nou opnuut benut en elke dag leef asof dit haar laaste is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article