MONTAGU – ’n Groep fietsryers van Montagu en omliggende gebiede wat poog om ’n positiewe bydrae tot die gemeenskap te lewer, het die afgelope naweek hulle eerste fietsrit van 100 km vir die bewusmaking van borskanker onderneem.
Jemile Adams, die organiseerder, sê dit is maar net die begin, met groot planne vorentoe.
“Ons wil probleme en bekommernisse oor borskanker op ons fietse uitlig deur aan die mense wat daardeur geraak word, te sê ons is hier vir julle.”
Die groep ryers is in Junie verlede jaar gestig en bestaan tans uit 14 ryers van Montagu, Ashton en die breë Langeberg-omgewing.
“Ons doel is ook om eenheid teweeg te bring onder die fietsryliefhebbers van die gemeenskap en ook om ’n gesonde leefstyl te handhaaf.
“Ons grootste mylpaal was toe ons vandag 100 km vir borskanker getrap het.
“Ons is net ’n gewone klomp manne, en as ons dit kan doen, kan enigiemand.
“Die roete was van Montagu, Bonnievale en Ashton en ons is gereed vir enige bewusmakingsveldtogte,” sê hy.
Adams sê voorts hulle wil ook skole in die Langeberg-omgewing betrek om fietsrykompetisies vir hulle te reël om die sport in die gebied ’n hupstoot te gee.
“Sodoende kan ons die jeug betrek en kinders uit die strate hou. Ons beplan ook om ons rygroep in die nabye toekoms as ’n klub te registreer,” sê hy.
Die groep is ook bevoorreg om die kompetisieryer Freek Fortuin in die groep te hê wat sy ervaring met hulle deel. Hy is lid van die Swellendam-fietsryklub.
Adams sê hulle het uiteraard ook behoeftes, soos fietsrygereedskap en borgskap vir langafstandroetes met goed soos piesangs, sjokolade en Powerade.
Mense met voertuie wat agter die fietsryers ry, sal ook verwelkom word.
. Kontak Jemile Adams by 065 385 8313 vir nog besonderhede.





