AO Vathiswa Jacobs van die Worcester-polisie het aan Standard bevestig dat daar Maandag ’n baba-fetus op Worcester se stortingsterrein gevind is.
Dit is nog nie bekend hoe lank die fetus daar gelê het nie, hoe oud die baba was of wat die omstandighede rondom die vonds is nie.
Wat Jacobs wel kon bekend maak, is dat die polisie gestuur is na die stortingsterrein langs die R43 in Worcester.
Tydens die polisie se ondervraging het die persoon wat die lyk gevind het, verduidelik dat hy “klein voetjies en hande in die vullis” gesien en dadelik die polisie ontbied het.
Die persoon het vullis van die vullistrok afgelaai en het sodoende op die lyk afgekom.
Volgens ’n betroubare bron was die vonds ’n nie-lewensvatbare fetus wat waarskynlik weens ’n miskraam te jonk gebore is om te oorleef. Die fetus is waarskynlik in ’n vullisdrom gegooi en het sodoende op Worcester se stortingsterrein beland.
’n Saak van verberging van geboorte word geopen. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Breedevalleiers word aangemoedig om klinieke in hul gebied te besoek om miskrame en ander komplikasies met swangerskappe aan te meld sodat mediese hulp ingewin kan word en moontlik die lewe van die ma en die baba kan red.
Ma’s wat reeds die lewe geskenk het en nie meer na hul baba kan omsien nie, kan hulle na die NG Moedergemeente, as deel van die Baby saver-projek, wend.
Standard het in Mei 2022 berig dat dié projek in Worcester bekend gestel is.
Dit behels ’n boks wat in die kerk se muur ingebou is. Nadat ’n baba in die boks gesit is en die deur aan die buitekant toemaak, gaan ’n alarm af wat nooddienste in kennis stel.
Buiten hierdie opsie word ma’s ook aangeraai om die wetlike prosedures te volg en ’n maatskaplike werker te kontak oor aanneming. Dit kan gedoen word deur die departement van maatskaplike ontwikkeling of ’n toepaslike organisasie sonder winsbejag in die gebied te kontak.



