Felicity Fransman (links) saam met die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se burgemeester, Helena von Schlicht.


Vrouwees lyk anders vir almal.

Jou grootwordjare, sekere lewenservarings en selfs trauma dra uiteraard by tot wie jy is.

Vir baie in die dorp – en meesal skoolkinders – is Felicity Fransman (58) sinoniem met inspirasie, motivering en bemoediging. Van ’n jong ouderdom af het sy die ingebore dryfkrag gehad om te beskerm en te help.

“Toe ek ’n jong dogter was, het my pa my ma mishandel wanneer hy dronk was. Ek het altyd in die middel gespring om my ma te beskerm, en soms het ek haar sommer deur die venster help ontsnap ook. Ek het ook net ’n manier gehad om hom te kalmeer, hy was baie lief vir my, dis eintlik waar my storie begin,” sê sy.

Later, as ’n tiener op die ouderdom van 14, het sy besluit om die skool te verlaat en by die SAD-fabriek te begin werk.

Sy vertel ook hoe dit te danke is aan haar ma dat sy so standvastig in haar geloof is.

“Maak nie saak wat aan die gebeur was nie, my ma het gesorg dat ons elke Sondag en Woensdag in die kerk was. Selfs al het dit beteken my pa sit ons Sondae uit die huis, want hy het geglo my ma was ontrou. Dan het ons maar bietjie gaan stap en gesit en wag tot hy ná sy drankies gaan slaap, dan gaan ons weer huis toe.

“Hy was tog ’n liewe mens wanneer hy nugter was. Dan was hy baie besorgd en het sommer die huis skoongemaak.”

Sy vertel ook hoe sy op ’n jong ouderdom ’n belofte aan haarself gemaak het dat sy nie so ’n man wou hê nie.

“Ek het altyd vir myself gesê ek wil nie ’n man hê wat aan my slaan en skel nie. Ek het myself belowe dat ek nie gaan toelaat dat ’n man my so hanteer nie.

“En die ander droom wat ek as kind gehad het, was om met kinders te werk. Ek is was nog altyd baie lief vir kinders en wou werk met kinders wat uit moeilike omstandighede kom.”

Op 15-jarige ouderdom het sy ingestem om saam met een van haar broer se vriende op ’n uitstappie te gaan.

“Dit was my eerste keer en ek het toe vir my nuwe klere vir hierdie uitstappie gaan koop. Later die dag het een ding na ’n ander gelei en ’n maand later het ’n dokter bevestig ek is swanger. Ek het volgehou my kind se pa sal die man wees met wie ek trou. Maar dinge het baie anders uitgewerk.

“Ná ’n paar jaar het ek my sielsmaat ontmoet.”

Ná nog drie kinders en op die ouderdom van 41 het Fransman steeds daai roeping in hier siel gehad dat sy met kinders wou werk. Omdat sy nooit skool klaargemaak het nie, was dit moeilik vir haar.

“Dis toe ’n vriendin van my vertel het van die ABET (Volwasse Basiese Onderwys en Opleiding)-klasse. Die onderwyser daar het my sommer direk in die matriekklas gesit en ek het by myself gewonder waarin ek myself ingelaat het. Maar ek het die kursus voltooi en op 42 my matrieksertifikaat ontvang.”

Fransman het ook verskeie kursusse deur die loop van haar lewe voltooi, insluitend ’n kursus om as berader by skole te werk. Dit is dan ook by die twee hoërskole waar sy hierdie diens gelewer het, dat sy diep in die harte van hoërskoolleerders gekruip het. Soveel so, dat een van haar leerders haar verlede jaar vir die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se jaarlikse Fenomenale Vroue-kompetisie ingeskryf het weens die positiewe impak wat sy op hom en sy mede-leerders gehad het. Sy het die hoër basiese onderwys-kategorie gewen. Sy is vanjaar weer terug genooi om die gasspreker by die funksie te wees.

Sy is egter nie tans by enige skool betrokke nie.

“Ek het besluit ek wil nog verder gaan leer. Hier is steeds iets binne in my wat wil leer. Ek is tans besig met ’n kursus in vroeë kinderontwikkeling. En wanneer ek dit voltooi het, gaan ek aansoek doen vir ’n kursus in gemeenskapsontwikkeling. Met daardie kwalifikasie kan ek fokus op ons kinders en hoe om hulle te help om bo hul situasie uit te styg en die beste van hul lewe te maak.”

Sy word gereeld genooi om praatjies by skole en kerke te gee.

“En mense sal my soms ook vra om net na hul huise te kom vir bemoediging. Dit is die persoon wat die Here my gemaak het, om hierdie paadjie te stap. En ek is tog net baie dankbaar vir enigiets wat na my toe kom.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article