‘n Ouerpaar van Worcester en hul kleinkinders is steeds in die wolke ná hulle eergister die blye nuus ontvang het dat dit nie hul dogter en ma se lyk is wat die afgelope Sondag op die perseel van Hoërskool Breërivier in Worcester gevind is nie.
Volgens die ouma het sy en haar man hul yskoud geskrik toe hulle Sondagaand omstreeks 20:00 die tyding kry dat hul dogter se lyk op die skoolperseel gevind is.
Sy vertel dat sy, haar man en hul seun onmiddellik afgesit het polisiestasie toe om navraag oor die lyk te doen.
“Die polisie het ons toe na forensies verwys. Maandagoggend voor agtuur was ons by die forensies. Ek het vir hulle ‘n foto van my dogter gewys. Hulle kon nie vir ons die lyk wys nie omdat dit glo al erg ontbind het.”
Volgens die ma is DNS-monsters van haar geneem. Sy sê DNS-monsters sou die volgende dag van die oorledene geneem word om vas te stel of hulle verwant aan mekaar is.
Volgens haar sou dié uitslag eers volgende week bekendgemaak word.
Die ma vertel gisteroggend (Woensdag) aan Standard Breederivier Gazette dat haar dogter – wat hulle gedink het oorlede is – glo op sosiale media gelees het van haar “dood”.
Die dogter – wat in daardie stadium in Zwelethemba was – het onmiddellik na ‘n nabygeleë skool gegaan en iemand wat sy daar ken en wat ook naby haar ouerhuis woon, gevra om ‘n video van haar te maak waarin sy sê sy is op pad huis toe.
“Ek was so bly toe ek die video sien. Dit was nie lank daarna nie toe staan sy voor my voordeur. Sy was hartseer oor die feit dat ons gedink het sy is dood.”
Volgens die ouma het haar dogter se oudste seun in trane van blydskap uitgebars toe hy sy ma springlewendig voor hom sien staan.
Die ouma sê sy het onmiddellik die polisie gebel om hulle te sê haar dogter lewe nog.
Volgens AO Vathiswa Jacobs, ‘n polisiewoordvoerder, is die identiteit van die vrou wat se lyk gevind is nog onbekend. Sy sê ‘n verbyganger het Sondag omstreeks 13:55 op die lyk afgekom.
Jacobs sê die oorledene was geklee in ‘n geel langbroek en wit T-hemp.
Volgens haar het die vrou geen steek- of skietwonde aan haar liggaam nie.
Sy sê die polisie is tans besig met ‘n geregtelike doodsondersoek. Die oorsaak van die oorledene se dood moet nog be-paal word.
• Skakel die Worcester-polisiekantoor by 023 348 8605 met enige inligting wat meer lig op die saak kan werp. – Enrico Claassen





