Enigeen wat die bekende Expression Session bywoon, sal hoendervleis kry oor die talent wat op die verhoog na vore kom.
Die eerste Expression Session vir die jaar, wat verlede Donderdag plaasgevind het, het op ’n hoë noot begin.
Expression Session is ’n tuiste vir kreatiewes.
“Expression Session skep ’n platform waar mense hulle kreatief kan uitleef. Elkeen leef sy of haar kreatiwiteit anders uit: Deur fotografie,
sang, kletsrym, digkuns, grafiese ontwerp of selfs tatoeërmerke,” sê een van die koördineerders, Rumarcques Gelderbloem. Hy is ook bekend as Oxijin, die Worcesteriet wat deesdae in die leefstylreeks Pasella te sien is.
“Dis ’n ruimte wat selfvertroue bou. Kunstenaars kan ’n tweede keer oorbegin sonder dat mense vir hulle sal lag. Dis hier waar liedjie- en kletsrymskrywers hul identiteit ontdek en in hul eie taal begin skryf,” voeg hy by.
Melissa Campher (16), een van die kunstenaars wat al drie jaar by Expression Session optree, sê dit was ’n bousteen vir haar. “Dis die plek waar ek goeie selfvertroue op die verhoog opgebou het. Ek het vir jare my stem weggesteek, maar hier het mense my begin raaksien.”
’n Rymkletser wat al vir twee jaar by die beweging betrokke is, Keano Miles (23), sê hy reël maar ’n saamrygeleentheid na die sessies want hy wil dit nooit misloop nie.
“Ek kry ’n ‘lift’ tot hier; ek moet net hier uitkom, want dis my passie.” Hy sê hy kletsrym oor sy lewe. “My kuns is baie diep. Dis oor my lewe, hoe die straat my raak; wat ek sien en wat ek ervaar; wat ek voel.
Dis baie meer as net musiek vir my. Hierdie is vir ons ’n platform wat ons gereed maak vir wanneer ons eendag voor ’n groter gehoor optree.
Expression Session het 16 jaar gelede ontstaan en is die geesteskind van Simon Witbooi, alombekend as Hemelbesem, sowel as Robyn Fourie en Rumarcques.
Rumarcques sê een van die belangrikste lesse wat hy deur die beweging geleer het, is die noodsaaklikheid van eenheid. “Mense is belangrik en die woord ‘ons’ gaan oor een en almal. Almal moet saam beweeg.”
Een van die suksesse wat Expression Session opgelewer het, is die uitbreiding daarvan na ander dele in die provinsie, waaronder George, Kuilsrivier en Oudtshoorn.
Rumarcques sê hulle het Expression Session-saamtrekke in ’n kerksaal begin. Dit is vir ’n wyle ook in die Scouts-saal aangebied. Daarna is dit by Kleinplasie aangebied en deesdae word dit by die Kleinteater in Russelstraat gehou.
As gevolg van ’n finansiële tekort om die huidige lokaal te behou, is Expression Session Worcester op soek na ’n alternatiewe lokaal waar die sessies aangebied kan word.
.
Enigiemand wat kan help, is welkom om Rumarcques by 062 373 2714 te bel.
.
Enigiemand wat kan help, is welkom om Rumarcques by 062 373 2714 te bel.


