Inwoners het teen Dinsdagaand nie geweet hoe hulle dit aan of af het met Eskom se beurtkragrooster nie.

Sedertdien het beurtkrag op drie verskillende tye van die dag tussen fases 6, 4 en 2 gewissel. Dit was die ergste beurtkrag wat die land sedert 2019 ervaar het, toe fase 6 in Desember daardie jaar ingestel is.

Eskom het gesê vandeesweek se uitbreiding na fase 6 was te wyte aan ’n onwettige loonstaking, wat wydverspreide ontwrigting by aanlegte veroorsaak het. Die kragreus het teen gister (Woensdag) gehoop die loondispuut sou besleg kon word. Werkers het ook stuksgewys begin terugkeer.

Die staking het Eskom genoop om voorsorgmaatreëls te tref om opwekkingskapasiteit op te gaar en aanlegte teen skade te beskerm. Drie van die 10 opwekkingseenhede wat Maandagaand tot stilstand gekom het, is deur die loop van die week weer aangeskakel. “Dit was egter steeds onvoldoende om die implementering van fase 6-beurtkrag Dinsdag en Woensdag af te weer,” sê Eskom.

’n Dringende media-inligtingsessie is Dinsdagoggend gehou, waar Eskom se bestuur gesê het stakende werkers het toegang tot aanlegte verhinder. Dit het later tot intimidasie van ander werkers gelei en voertuie is aan die brand gesteek.

Loononderhandelings het reeds verlede week op ’n dooie punt uitgeloop, wat toe tot fase 4-beurtkrag gelei het.

Intussen het die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, gesê Suid-Afrika moet weer in die “donkerte rondtas” te midde van ’n nuwe ronde beurtkrag. “Maar hierdie keer is dit ’n onwettige staking wat bydra tot ’n reeds verwoestende kragkrisis. Hierdie onwettige nywerheidsaksie by Eskom raak nie net sy bedrywighede nie, maar benadeel ook die hele land. Miljoene Wes-Kapenaars is in die middel van hierdie dispuut vasgevang.”

Winde het Wes-Kapenaars gevra om nie paniekerig te raak nie. “Ons rampbestuurspan monitor die situasie deurlopend en kommunikeer met die onderskeie munisipaliteite.”

Die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, het gesê sy departement is in noue kontak met Eskom en sal enige veranderinge of nuwe inligting oor die verwagte duur van hierdie situasie deurgee.

André de Ruyter, Eskom se uitvoerende hoof, het gewaarsku dat die agterstand met instandhouding by opwekkingseenhede selfs nadat die staking verby is, die risiko vir langdurige beurtkrag kan laat voortduur.

Eskom het ’n beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om te help om die impak van beurtkrag te beperk deur die gebruik van elektrisiteit te verminder en om alle nienoodsaaklike toestelle af te skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article