Ek sit nog so om my hele pedigree vir hulle te vertelle toe ’n man op die toneel verskyn.
Klaarblyklik was hy ook daar om, soos ek, drie lewens te red.
Ek steur my vir eers nie aan hom nie en gaan voort om die vraelys te beantwoord. Soos: Gaan jy binne die volgende 24 uur aan ’n gevaarlike sportsoort deelneem? Nee wat, om uit ’n vliegtuig te spring is nie vir my nie, so, dis ’n nee. En ek steek ook nie mes nie, al is dit die Nuwe Suid-Afrika se “nasionale sport”.
Die gryserige man kom sit reg oorkant my. Net voordat ek die vraag kan beantwoord oor of ek dalk swanger is, tref dit my: maar dis mos Pietie Human, vanmelewe die dorp se hoofverkeersman, sekerlik nou al afgetree. Pietie Liefde, het ons klomp matriekseuns hom altyd genoem.
En nee, ek is nie swanger nie. Was nog nooit nie en sal ook nooit wees nie. Ook ’n nee.
“Hallo,” sê ek, “is jy nie dalk Pietie Human nie?” Nou moet ek fyntrap, want 30 jaar of wat doen dinge aan ’n mens en dalk is dit nie eens hy nie. Alles sak mos maar mettertyd af.
Het jy die afgelope drie maande met meer as een mens uhm…jy weet? Nee, ek doen nie daai nie. En toe meteens: “Dis ek ja, Pietie Human.”
Sowaar, dit ís toe nou hy.
Terwyl ek voortgaan met die vraelys, val dit my skielik by. “Ja, ou Pietie, jy het ons mos toe ons in matriek was met jou Datsun-verkeersbakketjie rondgejaag om die ouens uit te vang wat sonder lisensie ry, né?”
Het jy die afgelope sewe dae Botox-behandeling ondergaan? Wel, ek beplan vir ’n facelift oor so tien jaar van nou af. So die antwoord is nee.
Pietie gee ’n goedige laggie en loer nou na my oor sy Clicks-brilletjie wat ook al by 3.5 verby is. “Maar julle was darem ’n klomp bliksnaters,” sê hy, “en meer glibberig as ’n paling.” Want sien, hy het ons selde gevang. ’n 50cc- Honda Bobcat van daai tyd kon nogal ’n Datsun 1200 ore aansit.
Het jy die afgelope weke tatoeëring ondergaan? Wel, nee, ek skryf meestal op papier, nie op my vel nie.
“Maar Pietie, hét jy ooit een van ons gevang?” “Ja,” seg hy, “tog wel een keer.” “En toe?” vra ek. “Dit was my Christelike plig om hom by die skoolhoof aan te gee en sy motorfiets daar en dan te konfiskeer.”
“Ja, en toe?” Hy kyk weg en ver, nes wanneer ’n donkie oor ’n afstand ’n nuwe hek sien. “Toe help die seunskind my nog om die motorfiets op die bakkie te kry. Ek het dit toe maar by sy pa se kantoor gaan aflaai en gevra hy moet asseblief ’n lisensie kry. Volgende keer is daar ’n vet boete.”
“Nou waar was jy, Pietie, toe ’n buurman in ons kompleks knaend sy motor in mý garage kom parkeer en die deur gesluit het? Dan was hy baie verleë as ek hom daarop wys dat sy garage eintlik die een aan die oorkant is.”
Maar wag, nou kan ons gaan bloed skenk. Ek en ou Pietie, nou bloedbroers.





