Elke jaar in April word die kollig gerig op outismespektrumversteuring (OSV) om meer bewustheid oor dié ernstige ontwikkelingsversteuring te skep.
Paarl Post het met Ingrid du Toit, die skoolbestuurder by Boland Skool vir Outisme in die Paarl, gesels.
“Outisme is ’n neurobiologiese ontwikkelingsteuring wat gewoonlik in die eerste twee jaar van ’n kind se lewe verskyn. Struikelblokke sluit onder meer in kommunikasie, sosiale interaksie, beperkte belangstellings en herhalende gedrag. Spektrum dui op ’n wye variasie en die aard en erns van die simptome.”
Die skool is ’n organisasie sonder winsoogmerk, wat vanjaar sy 14de bestaansjaar vier.
Du Toit sê outisme is ’n lewenslange diagnose, maar met vroeë intervensie en terapie kan lewensgehalte verbeter word.
“Ons bied ’n aangepaste CAPS-kurrikulum aan die leerder in klein klassies in ’n skoolopset met vaste roetines en strukture.
“Die leerders word deur ’n span kundiges, op wie ons baie trots is om mee saam te werk, geëvalueer om ’n leerderprofiel aan die onderwyser beskikbaar te stel vir verdere ondersteuning.”
Du Toit wys daarop dat daar verskeie tekens van outisme is wat opgelet kan word onder jonger en ouer kinders. Onder jonger kinders sluit die moontlike tekens in:
. Reageer nie op sy of haar naam nie;
. Vermy oogkontak;
. Herhaalde bewegings; en
. Agterstand met spraak- en taalontwikkeling.
Onder ouer kinders kan die volgende moontlike tekens opgelet word:
. Sukkel om ander se emosies te lees en te verstaan;
. Vind dit moeilik om maats te maak;
. Hou van ’n amper rigiede roetine; en
. Verstaan nie altyd wat van hulle verwag word nie, en . Sukkel om opdragte uit te voer.
Die moontlike tekens is egter nie beperk nie en daar is heelwat ander simptome wat ’n aanduiding van outisme is.
Volgens Du Toit is verskeie vorms van ondersteuning vir die kind en ouers beskikbaar. Sy sê om ’n diagnose so vroeg as moontlik te kry, maak dinge reeds makliker. Ander vorms van ondersteuning sluit in terapie (spraak, arbeid en maatskaplik, wat op sosiale vaardighede fokus), gereelde opvolgsessies met ’n dokter indien medikasie voorgeskryf is, ’n skool met klein klassies en onderwysers wat die uitdagings verstaan, en ’n ondersteuningsgroep met ouers wat ook kinders op die spektrum het.
David Maynier, die Wes-Kaapse LUR van onderwys, het verlede maand tydens sy begrotingstoespraak in die provinsiale parlement gesê die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) gaan vanjaar R30,85 miljard op onderwys begroot.
Hy het ook uitgewys dat ’n bykomende R71,4 miljoen gebruik sal word om die ondersteuning van leerders met outisme te verbeter.
Boland Skool vir Outisme bied verskeie geleenthede aan om geld in te samel. Dit sluit in ’n dans op 4 Mei, ’n gholfdag op 10 Mei en ’n vroueoggend op 5 Oktober.
. Kontak Boland Skool vir Outisme by 021 870 1430 of per e-pos by bolandadmin@bolandautism.org.za vir meer inligting.




