Gail Coert sê die Here sorg steeds vir haar.Foto: Enrico Claassen


Sy was baie aktief en het daarvan gehou om berg te klim en teen die berg af te seil. Sy was onafhanklik en het alles vir haarself gedoen.

Die lewe van Gail Coert (69) van Parkerstraat van Worcester het op 21 Maart 1982 onherroeplik verander toe sy, haar suster, Jennifer (Jenny) Coert, en June van Wes, ’n vriendin, in ’n gru-ongeluk buite Grabouw betrokke was. Die ongeluk het Gail van bokant haar bors tot onder verlam gelaat. Sy gebruik die afgelope 42 jaar ’n rolstoel.

Gail vertel in ’n openhartige onderhoud aan Standard Breederivier Gazette sy was aanvanklik kwaad vir die Here.

“Ek was ook kwaad vir myself omdat ek nie vrede wou maak met my situasie nie. Ek het nie meer kerk toe gegaan nie.

“Later het ek besef ek moet weer kerk toe gaan omdat ek die Woord moet gaan ontvang … gaan krag kry. Ek het besef ek kan nie sonder die Woord lewe nie.”

Gail sê dit was ’n Saterdag waarop hulle vir haar tannie en oom in Grabouw gaan kuier het. Volgens haar het hulle besluit om kort voor middernag dieselfde aand nog terug Worcester toe te ry.

Voordat hulle in die pad geval het, het haar tannie hulle nog teen ’n skerp draai op pad terug Worcester toe gewaarsku.

“Toe ek in die draai kom, toe kry ek skielik ’n pyn in my kop. Die motor het oor die afgrond gerol en op sy sy tussen bosse en blomme beland.

“My linkerbeen was dwarsdeur die voorruit. Ek kon nie asem kry nie. Ek het Jenny gevra om die kar om te draai.

“Ek weet nie waar sy die krag vandaan gekry het nie, maar sy kon dit regkry om die kar terug op sy wiele te stoot. Jenny het toe tussen die bosse en bome tot bo by die pad geklouter om hulp te gaan soek.”

Volgens Gail is sy in die Tygerberg-hospitaal opgeneem en later na die Conradie-hospitaal oorgeplaas.

“Die dokters het ysters in albei kante van my kop ingeplant ven sulke gewigte het agter by my kop gehang. Hulle het probeer om my werwels weer in plek te kry. Ek het net daar gelê en nie geweet wat aangaan nie.

“Toe ek bykom, toe staan daar dokters om my bed. Hulle sê toe ek sal nooit weer kan loop nie. Ek het hulle verskree en gevra: ‘Is julle God? Moenie vir my kom sê nie!’ My nek was gebreek – net sentimeters van my asemhalingstelsel af. Ek moes eintlik dood gewees het.”

Volgens Gail was sy vir sowat ’n jaar in die hospitaal.

“Ek moes gevoer word. Wanneer ek gewas word, het ek gehuil omdat ek niks vir myself kon doen nie.

“Ek wou sterf, want waar is die Here wat die blindes laat sien, die dowes laat hoor en die verlamdes laat loop? Ek wou weet hoekom Hy nie sy job doen nie.”

Gail sê nadat sy uit die hospitaal ontslaan is, het sy verskeie kere probeer selfmoord pleeg. Elke poging was onsuksesvol.

Volgens haar het sy een nag ’n helder lig in haar kamer gesien.

“Ek sien toe die gesig van die Here. Hy sê toe vir my ‘Gail, kom terug; kom terug na waar jy was en volg my weer’. Net daar toe gaan ek bitterlik aan die huil. Ek het toe bely. Ná dit het ek besluit om myself reg te ruk. Die Here het my hierna goeie jare gegee.”

Volgens Gail het sy die gebruik van haar hande en arms teruggekry.

“Ek kon weer kook. Ek kon na my suster en broer se kinders omsien.”

Volgens haar wou sy destyds by haar pa weet hoekom hy nooit van die Padongelukkefonds geëis het nie.

“Hy het geantwoord met ‘die Here gaan vir jou sorg’. En die Here het vir my gesorg. Hy sorg nog altyd vir my. Elke oggend word ek wakker en asem hierdie Godgegewe suurstof in my longe in. Ek sien die son opkom en hoor die voëltjies tjirp. Ek lewe. Ek skryf dit alles toe aan die Here.”

Volgens Gail bedank sy altyd die Here vir Jenny en haar ander familie wat haar sedert die ongeluk versorg.

Gail vier aanstaande maand haar 70ste verjaardag.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article