Die koerantverkoper Dennis Bezuidenhout (49) en sy geliefde hond, Miemie, in gelukkiger tye. Foto: JP Myburg


Elke Donderdag het Miemie die Rottweiler getrou langs haar eienaar se sy gestaan waar hy die Standardverkoop het. Nou is Miemie se stem stil en het die 49-jarige Dennis Bezuidenhout nie meer iemand om sy kos mee te deel nie.

Standard het in 2020 oor Dennis en sy geliefde hond, Miemie, berig. Hierdie dinamiese duo was elke Donderdag, in mooi en gure weer, op hul pos in Baringstraat.

Inwoners was gaande oor Miemie en die “Rottie” is oral waar hulle gekom het, bederf.

As Dennis een keer per week na die munisipaliteit toe gegaan het, het werknemers daar Miemie gereeld met kos en lekkernye bederf.

“Ek het alles vir haar gegee. Ek sou nie eet as ek geweet het Miemie het nog nie geëet nie. Sy is nou net weg, en dit is baie stil sonder haar,” vertel ’n emosionele Dennis aan Standard.

Miemie is onlangs een oggend dood aangetref nadat sy vir ’n paar dae ’n bietjie olik gelyk het. Dennis sê hy het alles probeer, maar dit was tevergeefs.

“Ek weet nie hoe om sonder haar aan te gaan nie. Die mense wat ons elke week ondersteun het, wil ook weet, en dit maak my hart seer om vir hulle te moet sê sy is dood. Sy was ’n baie liefdevolle hond en het geen moeite vereis nie. Sy het oral saam met my gestap en my altyd veilig gehou,” sê Dennis.

’n Inwoner van die dorp het Standard in 2020 gekontak en vertel van die koerantverkoper en sy hond wat weekliks ’n glimlag op haar gesig laat.

“Dennis is baie vriendelik en het so mooi na sy hond omgesien. Hy sou sy laaste gee om haar te versorg en te verseker sy was veilig,” het die vrou aan Standard gesê.

Dennis, wat voorheen as ’n plaaswerker buite die dorp gewerk het, vertel hy het in die winter vir Miemie ’n jassie aangetrek en ’n kombers saamgeneem as hy gaan werk het.

“Nou is die jassie en die kombers maar by die huis. Ek sal dalk oorweeg om eendag weer ’n hond te kry, maar nie nou nie. Sy het my gered in ’n tyd toe ek deur diepe waters gegaan het,” sê hy.

Dennis en Miemie is bekend op Facebook aangesien talle inwoners al foto’s en video’s van die twee gedeel het. “Dit is asof sy my gehelp het om koerante te verkoop. Die mense was lief vir haar, maar nie so lief soos ek haar gehad het nie.”

Dennis het destyds in 2020 gesê hy wil so lank as wat hy gespaar bly, die Standard verkoop en het gesê met Miemie aan sy sy kan hy die wêreld in die oë kyk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article