WORCESTER – ’n Oomblik van afwagting het Erfenisdag op sy kop gekeer toe Janette Knox, ’n 57-jarige inwoner van Worcester, op 24 September in die oggend genadiglik aan die kake van ’n wilde boerboel ontsnap het.
Wat ’n rustige stap na haar susterskind se huis moes wees, het in ’n bloedstollende stryd om oorlewing ontaard.
Knox het vertel hoe sy net ’n paar huise van haar huis af in die Hospitaal Heuwel-omgewing gestap het toe sy skielik deur die reusehond aangeval is.
“Ek het niks vermoed nie, want ek het die hond vroeër saam met drie seuns gesien. Hy het ’n ketting om sy nek gehad, maar geen leiband nie. Ek het nie besef hy kom in my rigting aangehardloop nie,” het sy met ’n bewerige stem gesê.
Die volgende oomblik het die boerboel sonder waarskuwing op haar afgestorm en haar aan die regterbobeen gegryp en sy tande diep in haar vleis ingeslaan.
Die hond het sy kop met ’n onheilspellende gekerm van kant tot kant geswaai soos ’n roofdier wat sy prooi verskeur.
“Daai geluid … die klank van sy tande wat deur my vlees sny – dit sal ek nooit vergeet nie,” het Janette vertel.
Die paniek het haar oorval terwyl sy in die hond se dodelike greep vasgevang was.
“Ek het gedink ek gaan sterf,” voeg sy by.
“
“Ek het my hand in sy bek gedruk in ’n desperate poging om sy lugweg toe te druk, maar dit was tevergeefs.
“Ek was magteloos.”
Gelukkig het bure in die omgewing Janette se angskrete gehoor en hulle tot haar redding gesnel. Een van hulle het die moed gehad om haar te help, terwyl ander agterna bygekom het om die hond uiteindelik van haar af weg te kry. Kort daarna het haar suster se skoonseun by die toneel opgedaag.
“Hy het my gevra of ek nog lewe,” onthou Janette. “Ek het vir hom gesê ek lewe, maar ek kan nie loop nie.” Hy het haar versigtig op ’n grasperk neergesit terwyl hulle die ambulans gebel het.
Janette is dadelik hospitaal toe geneem, waar sy noodoperasies ondergaan het om die diep wonde te behandel. Haar herstel was egter nie sonder komplikasies nie.
“Ek het Maandag teruggegaan, maar die dokter het gesê die weefsel genees nie goed nie. Dit klink of hulle dooie weefsel sal moet uitsny,” het sy teleurgesteld gesê.
Wat hierdie tragiese aanval soveel pynliker maak, is die feit dat Knox self ’n diereliefhebber is.
Ironies genoeg het sy al verskeie kere met die hond se eienaar oor die boerboel gepraat.
“Daardie hond was altyd buite vasgemaak, in die hitte van Worcester, sonder water en kos. Ek het verskeie kere probeer om vir hom op te kom, maar kyk wat het nou gebeur,” het sy gesê.
Knox het besluit om die voorval nie daar te laat nie. Sy het ’n klagte by die polisie aangemeld.
“Ek het ’n verklaring afgelê en die speurder het belowe om na my toe te kom. Die hond is steeds by sy eienaars, maar ek gaan dit nie net so los nie,” het sy vasberade gesê.
Die polisiewoordvoerder AO Vathiswa Jacobs het bevestig die klagte is op 25 September by die Worcester-polisiekantoor aangemeld. “Die saak is na die hof verwys, wat op die volgende stappe sal besluit,” het Jacobs gesê.
Janette wag nou angstig op geregtigheid, terwyl sy steeds met die emosionele en fisieke littekens van die aanval saamleef.



