’n Man van Zwelethemba is desperaat om saam met sy vrou hul lewe te begin herbou nadat hulle al hul besittings in ’n verwoestende brand verloor het.
Danile Manisi en sy vrou, Valashayi Nozimanga, het Vrydag 26 Augustus om 17:00 winkel toe gegaan, maar toe hulle terugkeer was hul informele struktuur aan die brand.
“Ons bly voor ’n smokkelhuis en daai plek se eienaar het gereeld met ons skoor gesoek, asook met die eienaar van die erf waarop ons woon. Volgens een van ons bure het hy weer op die betrokke dag tekere gegaan met die eienaar omdat die eienaar ’n heining om sy erf wou sit. Die smokkelhuis se eienaar het beswaar daarteen aangeteken omdat hy gevoel het die heining sou sy klante blok. Hy het glo ook daarop aangedring dat ons wendyhuis verwyder moet word,” verduidelik Manisi.
Verder verduidelik hy iemand het later sy woning met petrol bestook voordat hy dit aan die brand gesteek het.
“Ek het verneem iemand verbonde aan die smokkelhuis se eienaar het glo petrol om ons struktuur gegooi. Hy het toe na die buurvrou gegaan om vuurhoutjies te vra. Die vrou was so bang vir die man – sy wou nee sê, maar het dit maar vir hom gegee. Hy was volgens inligting onder die invloed van drank. Sy eie kind het aangemeld dat hy die brand gestig het.”
Manisi is hartseer oor die feit dat hy alles verloor het.
“Alles in ons huis het gebrand. Alles is in daai brand vernietig. Ek wil graag my plek herbou, want ná die brand is ons gedwing om te trek en moet maandeliks huur betaal. My vrou het ’n vaste werk, maar ek nie, en ek doen maar hier en daar los werkies soos dit beskikbaar is vir my. Ek wil die gemeenskap asseblief vra om my en my vrou te help met klere of enige huishoudelike artikels. Waar gaan ons nou die geld kry om alles weer te koop?” Hy kan by 071 402 4637 gebel word.
Volgens Manisi het die verdagte weggehardloop en word hy steeds gesoek.



