’n Plaaslike inwoner is teleurgesteld nadat sy na bewering in Desember ’n werkkontrak onderteken het en nou bykans twee maande later ingelig is dat haar aansoek onsuksesvol was.

Beaula Goliat (42) was nes talle ander op soek na werk om te kan bydra tot haar huishouding en om kos op die tafel te sit. Toe sy in Desember verneem van ’n skoonmaakpos wat beskikbaar is in Worcester, het sy nie geskroom om aansoek te doen nie.

Die pos, wat geadverteer is by ’n bekende groothandelaar in die dorp, was Goliat se kans om weer te kon begin werk en inkomste in te win, iets wat vir haar broodnodig is.

“Ek het dieselfde dag nog my CV ingevat. Ek moes stap, want ek het nie ander vervoer nie. Ek het ook nie ’n selfoon gehad nie, maar ’n naasbestaande se nommer opgesit.

“Ek het my dokumente gevat en daar is gesê hulle gaan my laat weet,” vertel sy aan Standard.

Terwyl Goliat hoopvol gewag het op nuus, het ’n geleentheid vir ’n onderhoud haar te beurt geval. Sy is ingelig dat sy na die kantore moet gaan en sy was in ekstase.

“Ek was baie opgewonde en dankbaar. Ek het weer eens kilometers ver geloop om die onderhoud te kon bywoon en dit het goed gegaan. Ek is ’n paar dae later laat weet dat ek die werk gekry het en moes gaan kontrak teken.”

Goliat was dankbaar en opgewonde. Die einde van haar swaarkry was in sig en ’n nuwe geleentheid het op die horison gelê.

“Ek het gegaan en by die kantore in die nywerheidsgebied ’n kontrak gaan teken, waarna ek die kontrak moes neem na die tak in Hoogstraat.

“Ek het alles ingegee en daar is gesê hulle gaan my laat weet wanneer ek moet begin,” sê Goliat.

Goliat en haar familie het haar nuwe werk in die feestyd gevier en in spanning gewag vir verdere opdragte.

Sy vertel dat kommunikasie daarna minimaal was en dat sy aangeneem het dit is omdat die Kerstyd gewoonlik beteken dat talle besighede hul deure sluit. Sy het ’n paar keer weer soontoe gestap om te hoor wanneer sy moet begin en is bloot gevra om geduldig te wees.

“Die hele Januarie het ek gewag dat iemand my kontak. Ek het ’n paar keer soontoe gestap en dit was elke keer ’n ander storie. Ek is net gevra om geduldig te wees. Ek het begin bekommerd raak.”

Sowat twee weke gelede is Goliat weer na die onderneming en is toe meegedeel dat haar dienste nie benodig gaan word nie.

“My hart het begin pyn. Ek het gevoel soos ’n teleurstelling, maar was meer kwaad dat hulle teruggegaan het op hul woord. Hoe teken ek ’n kontrak en daar word vir my gesê dat ek ’n drie-maande- proeftydperk gaan moet werk en dan ewe skielik beteken dit niks?

“Dan moet ek teruggaan huis toe en almal weer teleurstel. Dit is nie reg nie,” verduidelik sy verder.

Standard het uitgereik na die bekende onderneming se eienaar en het pertinente vrae gevra oor Goliat se situasie en hul besigheid se modus operandi as dit by aanstellings kom. Standard het nadat verskeie vrae gestuur is, bloot ’n tweesin-antwoord gekry.

“Die persoon waarna u navraag doen het wel aansoek gedoen en die aansoek was onsuksesvol. Geen kontrak is aangegaan nie,” lui die terugvoer. Opvolgvrae is gestuur, maar teen druktyd was dit steeds onbeantwoord.

“Hulle jok. Watter dokumente sou ek dan teken?

“Hoekom sou ek meer as ’n maand lank my tyd mors en in afwagting sit om te begin werk? Niemand kan vir my antwoorde gee nie. Hulle mors met ’n mens se gevoelens en hulle besef nie watter impak hulle op ’n mens se lewe het nie.”

Goliat, wat deur ’n bekende gemeenskapsleier bygestaan word, voel sy moet ’n regskenner nader en dié saak laat ondersoek.

“Intussen soek ek verder werk, maar ons kan nie besighede in ons dorp hê wat so met mense maak nie. Dit is nie reg nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article