Vir die eerste keer ooit kan wingerdwerkers in die Breedevallei hul vaardighede aanlyn opskerp, danksy die bekendstelling van ’n e-leerplatform vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf.

Winetech Mensontwikkeling, die bedryfsliggaam wat gemoeid is daarmee om die wynbedryf se strategie rondom die ontwikkeling van mense uit te rol, het dié aanlynplatform ontwikkel met die doel om aan persone oor die wynbedryfwaardeketting heen topgehalte-opleiding in ’n eenvoudige en toeganklike formaat aan te bied.

“Dit was die eerste logiese stap om op plaasvlak te begin, en danksy Vinpro se wingerd­werkersopleidingspakket, wat reeds uit uitstekende leermateriaal, video’s en assesserings bestaan het, kon ons dit maklik op die platform integreer,” sê Kachné Ross, bestuurder van Winetech Mensontwikkeling aan Standard.

Die platform gaan oor die volgende paar jaar uitgebrei word om ook op wynbereiding, bemarking en verkope, asook logistiek en verspreiding te fokus.

Vinpro se jaarlikse wingerd­werkeropleiding is alombekend in die wynbedryf, met meer as 5 000 persone wat hul praktiese vaardighede oor die afgelope sewe jaar opgeskerp het. Die opleiding is op ’n DVD-opleidingspakket geskoei, waarvan die 10 modules nou aanlyn beskikbaar gestel word. Dit sluit snoei, wingerd­vestiging, stokontwikkeling, lowerbestuur, grondbestuur, identifisering van siektes en plae, besproeiing, bemesting, die oes van wyndruiwe en grondkunde in.

“Mense is die onderbou van ons bedryf, en daarom is dit belangrik dat ons aan hulle die geleentheid bied om hul kennis en vaardig­hede deurlopend uit te brei,” sê Conrad Schutte, Vinpro se konsultasiediensbestuurder.

“Deur te begryp hoekom en hoe hulle aksies op ’n sekere manier uitvoer, gee dit aan hulle ’n gevoel van trots en sin vir verant­woordelikheid in hul werk, wat produktiwiteit opstoot. Hierdie nuwe gerieflike aanlynplatform gee leerders die geleentheid om teen hul eie tempo en op tye wat hulle pas deur die leermateriaal te werk.”

Hoe werk dit

Die e-leerplatform word as ’n een-jaar-lisensie aan wynonder­nemings beskikbaar gestel, en die koste wissel na gelang van die aantal werknemers wat per instansie geregistreer word.

Indien ’n plaas of kelder daarin belangstel om hul span vir die e-leerplatform in te teken, kan die spanleier of plaasbestuurder ’n e-pos stuur na lms@winetech.co.za.

Hierna sal ’n opleidings­verteenwoordiger hul kontak om die registrasieproses te verduidelik en ’n datum vas te lê vir ’n fisieke “lei die opleier op”-sessie, waartydens ’n Vinpro-kundige hulle van alle nodige inligting voorsien oor hoe die stelsel werk, en hoe die spanleiers en spanne saam die opleiding op die mees doeltreffende manier kan benut.

Spanleiers kan dan hul spanlede op die stelsel laai, waarna elkeen toegang tot die e-leerplatform sal kry deur hul slimfoon of rekenaar, en die wingerdspanne met hul opwindende nuwe opleidingsreis kan begin.

Spanleiers dien dus as opleiers wat hul eie wingerdwerkers se leer fasiliteer onder die bekwame begeleiding van die Vinpro-opleidingspan.

Ná die suksesvolle afhandeling van die eerste groep werkers se opleiding sal die spanleiers geregistreer word by die SA wynbedryf se professionele liggaam, SAWIPB, as wingerd­werkervoormanne met spesiale status en erkenning.

Buiten die leermateriaal en video’s waardeur spanne saam of op hul eie kan werk, kan individue ook kort toetse oor elke onderafdeling binne ’n module voltooi sodat hulle en hul spanleier tred kan hou met hul vordering.

Elkeen wat ’n module suksesvol voltooi met ’n assessering van bo 80% ontvang ’n e-sertifikaat wat hulle kan aflaai en druk, of op hul profiel kan hou indien hulle dit vorentoe nodig sou hê.

  • Besoek www.skillogical.com/winetech of kontak Kachné Ross by 021 276 0450 of e-pos kross@winetech.co.za vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article