Tim Richard, ’n graad agt leerder van HTS Drostdy, se video waarin hy die 400m aanpak in sy rolstoel, is al bykans deur ’n halfmiljoene mense gekyk.


Die video van die 13-jarige Tim Richard van die HTS Drostdy, wat op die internet ontpop het nadat hy die 400 m-wegloop in sy rolstoel voltooi het met sy maats wat hom aanmoedig, het omtrent die aandag by derduisende sosialemedia-gebruikers getrek.

Die skool het verlede Dinsdag (24 Januarie) sy jaarlikse atletiekbyeenkoms gehou en die gees van die dag was aansteeklik. Die leerders het vroegdag reeds ’n optog deur die strate van Worcester gehou en ou bekende atletiek-liedere gesing.

Dit was egter toe Richard vir sy item aantree dat ’n ware hoendervleis-oomblik ontstaan het.

Drostdy moedig jaarliks die nuwe gr. 8-leerders aan om aan hierdie atletiekbyeenkoms deel te neem, aangesien dit goeie gees bou en alles in ’n ligte luim plaasvind.

“Timmy, soos sy maats hom noem, het hom vir die 400 m ingeskryf, en ons het hom gevra of hy seker is hy wil dit doen, aangesien dit op gras is en die rolstoel ietwat moeilik is om daarop te beheer. Hy het daarby volstaan en was oortuig om dit te doen,” vertel sy ma, Ann, aan Standard.

Hy het vir die item met sy rolstoel gaan aantree en gewag vir die skoot om af te vuur. ’n Groep matriekleerders het by hom gewag en wou hom aanvanklik stoot om hom by te staan.

Richard het egter geweier en wou dit self doen. Toe die skoot afgeskiet is, het hy begin woel en die matriekleerders rondom hom het saam begin hardloop en hom oor die wenstreep vergesel.

“Ons is baie bly en trots op hom en ook al die leerders wat hom ondersteun het. Dit was vir ons baie spesiaal om te sien hoe die ander leerders hom bystaan. Ons was ongelukkig nie self daar nie, maar het later die video gesien,” sê Ann.

Die video waarna sy ma verwys, is op die skool se Facebookblad gelaai en is al deur bykans ’n halfmiljoen sosialemediagebruikers gekyk.

Derduisende mense het die video ook gedeel en positiewe kommentaar onderaan gedeel.

“Dit het ons in trane gehad om die video te sien. Dit was vir ons so mooi om al dié omgee en die respek wat almal het, te sien. Ons waardeer elkeen wat na die video gekyk en tyd uit hul dag geneem het om iets positiefs te skryf,” voeg Ann by.

Richard is dertien jaar gelede in die Mediclinic Milnerton gebore en spinale bifida lipoon is by hom gediagnoseer. Sy ma sê wat hieraan ly, ervaar dit anders.

“Dit is basies ’n gewas wat onder sy rug en rugstring vasgroei en veroorsaak dat die gevoel in sy bene en onderlyf verswak en (dié liggaamsdele) dan later nie meer werk nie. Hy is al van ’n jong ouderdom af in sy rolstoel.”

Die gesin het juis na Drostdy se opedag gegaan om te kyk of die skool vir sy behoeftes geskik sal wees en of hy maklik sal kan inpas terwyl hy ook die ondersteuning kry wat nodig is.

“Ons het by die opedag gesien dit is ’n baie goeie skool en dit was lekker om te sien hoe die leerders hom by die opedag gehelp het. Hulle het hom so goed behandel. Dit is die rede waarom hulle net daai iets anders het wat ander skole nie het nie. Hy pas tans baie goed aan,” voeg sy ma by.

Die gesin is veral ná hierdie gebeurtenis éérs bly hulle het die skool gekies, maar Richard was geskok om die video van hom in sy rolstoel op die atletiekbaan op sosiale media te sien.

“Ek was geskok, maar dit het my trots en bly laat voel dat almal my so ondersteun het. Dit is ’n baie goeie skool wat my toelaat om deel te neem, myself te wees en wat my aanvaar net soos ek is,” het hy aan Standard vertel.

Richard, wat verlede jaar sy laerskoolloopbaan by Worcester Noord Primêr voltooi het, is die middelkind in sy gesin en het twee broers, wat hom ook altyd ondersteun.

In sy vrye tyd lees hy graag, hy is mal oor kook en doen graag toertjies met sy rolstoel.

Dit blyk min dinge sal hierdie jongeling kan terughou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article