Ná Saterdag 8 Februarie se vriend­skap­like wedstryde teen Hamediehs op Bolandpark het die afrigters van Worcester Villagers – of sommer net Villa, soos die span in die volksmond bekendstaan – gewis nou al ’n aanduiding van hoe hul kernspanne vir die komende Groot Uitdaag-kompetisie van Boland Rugbyunie behoort te lyk. Want met ’n magdom talent wat nou begin die hand opsteek, is die kanse goed dat mededing­ende spanne saamgestel kan word.

Die wedstryd teen Hamediehs, wat in die WP se B-afdeling meeding en deur die oud-Kavalier en Saldanha-staatmaker Emile Booysen aangevoer is, het groot belangstelling gaande gemaak en lekker hardloop-rugby opgedis. Dit is ook baie goed deur Jabian Jaftha as skeidsregter hanteer. Dit het vir die besoekers op ’n hoë noot begin toe hul regtervleuel, JohnMcDevon, ná ’n skitterende breekslag onder die pale gaan kuier en die losskakel, Yasfir Davids, vir ’n 7-0-voorsprong verdoel het.

Nou behoorlik wakker geskud, het Villa se nuwe aanwins en losskakel, Elton Fundisi, ook ná ’n skitterende breekslag onder die pale gedruk en boonop self verdoel om sake gelykop te maak.

Die besoekers het weer die voortou geneem toe die linkervleuel, Wilbur Smida, oorgaan en Davids weer verdoel het om die telling 14-7 te maak. Villa was egter sterk terug in die prentjie toe nog ’n nuwe aanwins, die jeugdige binnesenter, Josh September, ná volgehoue druk oor is vir ’n onvervyfde drie.

Villa het hierna die voortou geneem toe Fundisi ná nog ’n breekslag weer onder die pale gaan druk en weer self verdoel het. Hamediehs het egter weer die voortou geneem toe die slot Ziswe July oorgaan en Davids weer verdoel het – dié keer vir ’n 21-19-voorsprong.

Villa het egter kort voor rustyd weer die voortou geneem toe sy woelige haker, O’ryan Jack, in die hoekie gedruk en Fundisi skitterend met die doelskop geslaag het – 26-21 teen rustyd.

Die besoekers het kort ná rustyd weer punte gekry toe die agsteman, Jacobus Johannes, oor is en Davids verdoel het om met 28-26 voor te loop. Villa het egter die voortou teruggeneem toe Jack vir sy tweede drie oorgaan en sy plaasvervanger-losskakel, Gurshwin Joubert, met die moeilike doelskop geslaag het om 33-28 voor te loop. Sake was egter weer gelyk toe die plaasvervanger-senter, Nate Abdullah, oor is vir ’n onvervyfde drie. Met die uurglas wat vinnig leeggeloop het, het die heelagter, Quaeed Hoffman, gedruk en met die geslaagde doelskop was die telling 40-33 vir die besoekers.. Villa se naasbestes het in ’n opwindende hoofvoorwedstryd Hamadiehs B met 31-14 geklop terwyl Villa se derdes met 21-12 aan die wenkant was. Villa reis Saterdag (15 Februarie) na die Paarl.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article