Swendelaars is in Hoogstraat vasgekeer.Foto: Charlrica Julies

Credit: SYSTEM

’n Gedeelte van Hoogstraat het Vrydagmiddag tot stilstand gekom toe die polisie ’n paar swendelaars in hegtenis geneem het.

Volgens ’n woordvoerder van die Worcester-polisie, AO Vathiswa Jacobs, het die verdagtes glo mense in Villiersdorp by ’n kitsbank van hul geld geswendel.

“Hulle het mense by ’n kitsbank in Villiersdorp van R3 000 beroof. Hulle het toe in hul motor geklim en van die toneel af gevlug.

“Lede van die Villiersdorp-polisie het hulle toe agterna gesit en hulle in Hoogstraat vasgekeer,” het Jacobs verduidelik.

Volgens lt.kol. Chrisna Auret van die Villiersdorp-polisie het hulle inligting ontvang dat ’n voertuig wat met ander bedrogsake verbind word in die dorp is.

“En skielik kom daar ’n klaer by die stasie ingehardloop om ’n saak te maak. Die drie verdagtes het hom by ’n kitsbank van R3 000 beroof.

“Ek en twee van my kollegas het sommer onmiddellik in my private voertuig gespring en hulle gaan soek.”

Terwyl hulle die verdagtes gesoek het, het hulle inligting ontvang dat die voertuig op pad Worcester toe was.

“Ek het toe vir kapt. Dippenaar van die honde-eenheid in Worcester gebel en hulle in kennis gestel van wat aan die gang is.

“En hulle het toe die verdagtes in Hoogstraat vasgetrek. Die klaer se R3 000 en bankkaart is by een van die verdagtes gevind.”

Auret voeg by dat die verdagtes met verskeie ander sake verbind word.

“Die een verdagte is net die vorige dag op kringtelevisie vasgevang waar hy dieselfde in Saldanha doen, in dieselfde klere. Daar is iets soos 12 of 15 ander sake waarby hulle betrokke was.

“Ek sê baie dankie vir die hulp wat kapt. Gerrit Dippenaar verlede week verleen het.”

Die verdagtes kom glo van George af. Hulle het reeds in die hof op aanklag van bedrog verskyn en die saak is uitgestel.

“Ons gaan natuurlik borgtog teenstaan,” het Auret gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article