Zinzan Davies se hartseer ouers, John en Hërjorie Wildschut.

‘n Ouerpaar van Avianpark in Worcester se harte is stukkend ná hul seun se skietdood die afgelope week. Zinzan Davies (32), onder sy vriende as Nazo of Zinny bekend, was een van drie mans wat die afgelope week in Worcester vermoor is.

Volgens sy ma, Hërjorie Wildschut, was hy vroegoggend op pad werk toe nadat hy die vorige dag nie sy take betyds kon afhandel nie. Hy wou dié dag vroeg aan die gang kom. “Hy het halfagt na ‘n winkeltjie daar naby in Dikkopstraat geloop om ‘n sigaret te kry toe hy geskiet is. Ons hoor daar was twee meisietjies van vier en ses jaar voor hom by die toonbank en hy het gewag dat hulle klaar betaal toe hy geskiet is.”

Sy gesin en vriende beskryf hom as ‘n lawwe, grappige mens – ‘n regte “Charlie Chaplin”.

“Mense beweer op Facebook dat hy by bendes betrokke was, maar dis nie waar nie. Hy het nie eens ‘n enkele tatoeërmerk op sy lyf nie. Van kleins af het hy eerder die pad gevat as hy sien daar is geweld.”

Davies was baie geheg aan sy ouers en sibbe, by wie hy steeds gewoon het.

Hy het sy skoolloopbaan aan Victoriapark Primêr en die Hoërskool Breërivier voltooi. “Hy het by Boland Painters gewerk en daarna vir baie jare op ‘n plaas. Hy sou Maandag by ‘n nuwe plek begin het, waar hy verfwerk sou doen,” het sy pa, John Wildschut, hartseer gesê.

Sy familie roep Davies hier­die Sa­ter­­dag (2 Augustus) vaarwel toe by ‘n diens in Volstruis­straat 10, Avianpark, om 08:00 en daarna by die kerk.

AO Vathiswa Jacobs, ‘n woordvoerder van die Worcester-polisie, het bevestig dat Davies verlede Donderdag (24 Julie) deur twee mans van agter af twee keer in die kop geskiet is. Een verdagte is reeds in hegtenis geneem.

In nog ‘n voorval is Rowan Ricardo Prins (34) se lewelose liggaam op Vrydag 27 Julie deur inwoners in die veld naby Jasonstraat in Riverview gevind. Hy het steekwonde aan sy gesig en bene gehad, het AO Jacobs gesê. Die polisie ondersoek die saak.

Die 24-jarige Lihle Simani is die afgelope Saterdag (26 Julie) dood nadat hy verskeie kere in Simangastraat in Zwelenthemba geskiet is. Die voorval het vroegoggend kort ná 01:00 gebeur en die polisie is nog op soek na die verdagtes.

Zinzan Davies

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article