Laurinda Morris (32) buite die hof tydens haar vermeende aanvallers se borgtogaansoek.Foto’s: JP Myburg


Die drie mans wat in hegtenis geneem is nadat ’n vrou van Hexpark onlangs na bewering aangerand en amper verkrag is, bly steeds in aanhouding.

Standard het sowat twee weke gelede berig oor ’n voorval waarin die 32-jarige Laurinda Morris buite haar ouerhuis na bewering deur die drie mans oorval en beroof is voor hulle gedreig het dat hulle aller­hande grudade op haar gaan uitvoer.

“My kêrel het my net ná middernag Maandag 17 Oktober by my ouerhuis afgelaai. Ons het gestry en ek wou net by my huis wees. Ek het buite in die straat gewag, aangesien my pa die hek in die aand sluit en ek het gehoop iemand sal kom oopsluit. Minute later is ek amper deur drie mans verkrag in ’n veld,” sê ’n emosionele Morris.

Sy sê een van die mans het haar genader en toe het die ander twee vanuit nêrens gekom.

“Hulle het my gegryp en my toe betas. Hulle het R1 000 se kontant gevat en my selfoon, wat alles in my borste weggesteek was. Ek het geskree. Ek het gehuil. Al wat ek kon doen, was om hulle te probeer byt en geraas te maak,” vertel sy verder.

Sy sê dat die mans haar begin sleep het na ’n nabygeleë veld, toe een van die buurvroue haar noodkrete hoor. Die mans het haar gelos en weggehardloop.

“Ek het gedink ek gaan doodgaan. Ek het nie geweet hoe ek dit lewendig uit dié situasie gaan maak nie.”

Die polisie het ná die voorval saam met gemeen­skapslede na die verdagtes gaan soek en hulle is op verskeie plekke in hegtenis geneem.

Morris se selfoon is ook ure ná die voorval deur ’n drawwer in die middedorp gevind.

Morris het aan Standard gesê dat ’n ondersoekbeampte in die saak haar sleg behandel het en haar laat voel het asof sy leuens vertel.

“Dit het gevoel of die beampte my bang probeer praat. Ek wou die voorval afneem, maar is toe op geskel en gesê dat ek my foon moes neersit.”

’n Bron na aan die onder­soek het egter aan Standard vertel dat dit nie die waarheid is nie en dat die beamptes wel standaardvrae aan haar gerig het, soos in enige ander ondersoek.

’n Ander bron het Standard ook vertel dat die beampte waarna Morris verwys het, gereël het dat sy mediese hulp kry ná die voorval.

“Die beampte het uit sy pad gegaan om te help. Toe die beampte by haar kom, het niemand nog aangebied om te help nie en dis wat hy toe wou doen – haar help. Die spesifieke beampte werk al jare lank met slagoffers van geweld, verkragting en kindermishandeling.”

Morris het ook bevestig dat die beamptes wat haar verklaring geneem het baie vriendelik was en haar bygestaan het. Toevallig is dit ook die beampte wat haar saak ondersoek en vir haar ná die voorval mediese behandeling laat kry het. Die beampte het ook in sy dossier in die hof gesê hy voel borg­tog moet nie aan die beskul­dig­des toegestaan word nie.

“Dit is belangrik dat slagoffers veral saam met die polisie werk. Enige los drade of gate in die storie kan die hele ondersoek kniehalter. Dit is ook van belang dat die gemeenskap die polisie vertrou om die ondersoek te doen en nie reg in hul eie hande te neem nie,” het die bron verder bygevoeg.

Die provinsiale polisie se woordvoerder, AO Joseph Swartbooi, het ook op die aantygings teen die onder­soekbeampte gereageer en gesê dat hulle nie die mandaat het om ’n kant te kies nie.

“Enige aantygings moet ondersoek word en ons sal eerder die slagoffer aanpor om ’n afspraak te maak met die bevelvoerder om dan ’n amptelike klag in te dien.”

Standard verneem egter dat geen van hierdie stappe al gevolg is nie.

’n Klomp inwoners het Donderdag 27 Oktober voor die landdroshof in Worcester saamgedrom met plakkate wat dit duidelik stel hulle voel borgtog moet in die saak geweier word.

“Een van die beskuldigdes se familielede het ons uitgejou voor die hof. Hulle het ons ook al by die huis probeer teister. Ons is net dankbaar hulle het nog nie borgtog gekry nie,” sê Morris.

Die drie beskuldigdes sal weer Woensdag 9 November in die hof in Worcester verskyn. Hulle bly in aanhouding.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article