Drie onbekende mans het Saterdag ’n drankwinkel in die Ashbury-woongebied in Montagu met `n vuurwapen binnegestap en beroof.
Die rooftog het omstreeks 19:50 plaasgevind.
Volgens die 47-jarige eienares van buitelandse afkoms, was sy en `n werknemer (65) op daardie stadium alleen in die winkel toe die drie vermeende rowers toegeslaan het. Beide verkies egter om anoniem te bly.
Sy vertel in gebroke Engels hoe die booswig met die vuurwapen haar daarmee in die gesig en teen die kop geslaan het. Hy het haar so hard met die wapen gemoker dat sy op die vloer geval en hulle haar toe na `n stoorkamer gesleep het.
Die 65-jarige werknemer is na bewering deur een van die rowers beveel om die kasregister oop te maak waarna `n groot bedrag geld gebuit is.
Volgens die werknemer is hy op `n stadium deur een van die rowers na die agterste gedeelte van die perseel, waar die woonhuis geleë is, geneem. Hy is toe beveel om die sekuriteitshekke voor die huis oop te maak, wat hy na `n gesukkel nie kon regkry nie.
Die rower het toe na die winkelarea teruggekeer en die werknemer by die sekuriteitshekke agtergelaat.
Volgens die werknemer het hy kort daarna drie skote gehoor en homself vinnig uit die voete gemaak.
Die rowers het klaarblyklik ook kort daarna te voet op die vlug geslaan.
Later is vasgestel dat `n aansienlike bedrag geld en die eienares se selfoon gesteel is.
Met die Gazette se besoek aan die toneel, op Dinsdag 6 September, was die eienares nog erg ontsteld oor die gebeure.
Haar geswelde gesig en `n persbloukneusing agter haar regteroor was stille getuienis van die nagmerrie-ondervinding wat sy deurgemaak het.
Sy het gevra dat geen fotos van die perseel of haarself gepubliseer word nie, want sy is bang die rowers kan terugkeer en hulle verder leed aandoen.
Volgens adjudant-offisier Suria Meyer, kommunikasiebeampte van die Montagu polisiestasie, word `n saak van besigheidsroof deur die plaaslike speurtak ondersoek.
Niemand is nog in verband met die rooftog in hegtenis geneem nie.
“Ons doen `n beroep op enige persoon wat moontlik inligting oor die voorval het, hoe gering ook al, om dit aan die polisie deur te gee. `n Bystandspeurder is 24/7 by selfoonnommer 079 894 1784 beskikbaar.
“Sers. Genton Jansen, sektorbevelvoerder van Ashbury en industriële gebied kan ook enige tyd op sy amptelike selfoonnr 082 522 3174 gekontak word,” sê Meyer.



