Double Foot Shooters-sokkerklub het Saterdag (2 April) in die Zwelethemba-stadion vir United Pirates 4-2 in ’n superligawedstryd (BLFA) geklop.
Doubles se taktiek om die spel na sy teenstander te vat, het vroeg vrugte afgewerp toe Mahmud Sahabodien binne 10 minute ’n goeie tweekuns behaal het.
Doubles het die druk verder vergroot toe Lincoln Appels in die 30ste minuut ’n pragdoel behaal het ná goeie interaksie met Lehandro Nimrod, Virgill Johnson en Keanu Links.
United Pirates het hierna sy taktiek gewysig met aanvalle op die vleuels en het kort voor rustyd twee skitterdoele behaal om die rustydtelling 3-2 te maak.
Die tweede helfte het begin met albei spanne wat pragspel opgelewer het.
Die Doubles-veteraan Willie “Buksie” van Rooyen het egter die tuisspan se harte gebreek met ’n goedgeplaaste vryskop buite die 18 m-gebied om sy span 4-2 te laat seëvier.
Doubles se doelwagter, Jowhayne Verhoog, is aangewys as die speler van die wedstryd. Lincoln Appels, Lorenzo le Roux en Carlo Maart het ook uitstekend gespeel en gewys dat hulle gereed is vir die seisoen.


