Double Foot Shooters-sokkerklub het sy posisie bo aan die punteleer verstewig (27 punte) toe hy United Pirates Saterdag op Esselenpark-stadion in ’n superligawedstryd 3-0 geklop het.

Die wedstryd het teen ’n geweldige tempo afgeskop, met albei spanne se middelskakels wat mekaar behoorlik opgekeil het.

Doubles was vroeg in die eerste helfte voor toe die middelskakel, Abongile Jaftha, die goeie spel van Keanu Links pragtig afgerond het.

United Pirates het in die 25ste minuut byna teruggeslaan met ’n gelykmaker, maar sy snellers se afronding het hom gekortwiek.

Die tweede helfte het groot opwinding veroorsaak toe Doubles se nuwe aanwins, Linfred Matolla, sekerlik die doel van die seisoen aangeteken het, toe hy met ’n kanonskoot ver buite die 18 m-gebied sukses behaal het.

Pirates het deurgaans die druk toegepas met goeie spel van sy middelskakels, maar die geluksgodin was net nie aan sy kant nie.

Doubles seël die wedstryd in die 80ste minuut toe die verdediger Lorenzo le Roux die goeie samespel tussen Eldoraan Nicholaas en Lincoln Appels afgerond het.

Waldo Verhoog het die troepe goed gelei en is aangewys as die speler van die wedstryd, terwyl Antonio de Kock, Ronaldo van Wyk, Keanu Links, Jowhayine Verhoog en Selwyn Booysen ook goed vertoon het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article