‘n Man wat in aanhouding was op ‘n moordklag, is in die vroeë ure van Sondag 15 Junie dood in die Worcester-polisie se aanhoudingselle gevind.

Leano Pekeur, wat in Roodewal in Worcester gewoon het, is sonder enige teken van lewe in sy sel gevind nadat ‘n ander aangehoudende alarm gemaak het. Pekeur het, volgens AO. Vathiswa Jacobs, woordvoerder die Worcester-polisie, twee snywonde aan sy nek gehad. ‘n Klein lemmetjie het langs hom gelê.

Die ander aangehoudende wou glo net na 02:00 badkamer toe gaan, toe hy Pekeur op die grond sien lê.

Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (OPOD) het bevestig dat hulle die saak ondersoek. Hulle het die Standard & Breederivier Gazette na die polisie verwys vir verdere navrae. Kapt. Frederick van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê dat die ondersoek na die saak waarop Pekeur in hegtenis geneem is op ‘n sensitiewe punt is en dat daar na nog ‘n verdagte gesoek word. Pekeur sou op Dinsdag 17 Junie in die hof verskyn het.

* Die berig is aangepas om kommentaar van OPOD en die provinsiale polisie by te werk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article