“Dit voel soos ‘n nuwe lewe; ‘n nuwe begin.”
So sê ‘n opgewonde Ilham Thiam (56), oorspronklik van Worcester, nadat sy die afgelope Dinsdag (16 September) ‘n splinternuwe lees- en ‘n kykbril spotgoedkoop by die Phelophepa-gesondheidstrein in Worcester gekry het.
Op die trein is altesame 35 finalejaar- mediese studente wat onder die wakende oog van professionele gesondheidswerkers onder meer primêre gesondheidsorg, tandheelkunde- en oogsorgdienste asook sielkundige berading aan kwesbare inwoners verskaf.
Die trein het Maandag (15 September) by die Worcester-treinstasie aangedoen en sal tot 3 Oktober daar vertoef. Dienste is weeksdae tussen 07:30 en 16:00 beskikbaar.
“Ek het ‘n voorskrif-bril gehad, maar kon dit later nie meer bekostig nie. Ek kon nie meer lekker bestuur nie, want my oë is ligsensitief en ek het nie die regte bril daarvoor gehad nie,” sê Thiam.
“Die diens wat ek hier gekry het, was puik. Die mense is baie professioneel en alles is goed gereël. Nou kan ek ook weer lekker lees.”
Sy spog verder dat sy twee tande vir net R10 laat trek het. Nog ‘n besoeker aan die gesondheidstrein, Claudia Alfreds (59) van Worcester, wat rolstoelgebonde is, sê ‘n familielid het haar Dinsdagoggend reeds 03:40 by die treinstasie afgelaai. Alfreds was vroeër self in verpleging.
“Ek het my bril mos maar altyd op my mediese fonds gekry, maar waar kry ek nou R4 000 vir ‘n bril? Die twee brille wat ek hier gekry het, was maar net R60.
“Die diens wat hier gelewer word, is baie goed. Die dag is selfs met gebed geopen.” Bheki Mendlula, wat aan hoof van die Phelophepa-trein staan, sê mense het Maandag en selfs Dinsdag, ten spyte van die slegte weer, in groot getalle vir mediese sorg by die treinstasie opgedaag.
Volgens Mendlula besoek mense hoofsaaklik die tandheelkunde- en oogsorgklinieke. Hy sê oogsorgdienste word op ‘n daaglikse basies aan gemiddeld 120 pasiënte verskaf, terwyl tandheelkunde-dienste aan gemiddeld 90 pasiënte per dag verskaf word.
“Ons wil hê mense moet ook van die sielkundige dienste op die trein gebruik maak, omdat ons geestesgesondheid wil bevorder. Mense moet verstaan hul geestesgesondheid is net so belangrik.
“Hier doen ons individuele en familie-berading. Ons het ‘n span kliniese sielkundiges en geregistreerde beraders op die trein wat regstaan om mense wat hul dienste benodig, te dien.”
Hy sê gesondheidsorg sal ook aan alte- saam 32 gevangenes verskaf word.
Volgens Mendlula sal gesondheids- werkers vir die volgende paar weke uitreikingsprogramme in die gemeenskap, skole en tehuise vir bejaardes doen. – Enrico Claassen




