Menslike oorskot in veld gevind
Menslike oorskot in veld gevind

DNS-toetse het bevestig dat die menslike oorskot wat op Maandag 14 Julie in ‘n oop veld agter Avianpark in Worcester gevind is, wel dié van Marceleen (Murcia) Kock is, wat sedert Junie vermis is. Die Worcester-polisie het bevestig dat hulle die uitslag van die toetse ontvang het.

Die 23-jarige Murcia is kort nadat sy klagtes van onder andere aanranding teen haar vriend by die polisie aangemeld het, as vermis aangemeld.

Op foto’s wat van haar verspei is toe die gemeenskap na haar gesoek het, was daar duidelike merke aan haar gesig en nek te sien. Groepe inwoners het weke lank al langs die Breërivier in die gebied agter die woonbuurt en die Nekkies-vakansieoord gesoek na tekens van haar, sonder sukses. Hulle het beweer dat haar vriend in daardie omgewing ná haar verdwyning gesien is.

Anna Paulse, wat Murcia geken het, het op Sondag 13 Julie beendere in die veld in ‘n plas water gesien lê. ‘n Groep seuns het vir haar gesê dit is dié van ‘n bok. Sy het aan die Standard & Breederivier Gazette vertel dat dit haar die hele nag bly pla het. Sy is die volgende oggend saam met haar twee kleindogters van 11 en 12 jaar terug na die plek toe, waar hulle die oorskot opgespoor en die res van die gemeenskap laat weet het.

Murcia se vriend is intussen in hegtenis geneem op grond van die klagtes wat sy vroeër teen hom aangemeld het. Hy verskyn op Woensdag 27 Augustus weer in die Worcester-hof.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article