Kerfees in die winter beloof om vanjaar weer ’n onvergeetlike affêre in Tulbagh te wees met Kersliggies, glühwein, wynproe, ’n kindersone en als wat jy en jou gesin van ’n koue winter kan verwag.
Die strate van hierdie klein dorpie word die afgelope 23 jaar al met Kersliggies versier; die tafels met glühwein en tradisionele Kersfeeskos geskik vir ’n feesmaal belaai. Daar is wynproestalletjies, musiek in lewende lywe, kroeë en ’n kindersone – alles omring deur sneeubedekte berge.
Dit is die Tulbagh-Kersfees in Winter, ’n jaarlikse hoogtepunt, en vanjaar is dit van 28 tot 30 Junie.
Die middelpunt van hierdie fees is die bekoorlike Kerkstraat, wat die grootste aantal Kaaps-Hollandse, Edwardiaanse en Victoriaanse erfenisplekke in een straat in Suid-Afrika het.
Stel jou dit voor – trekkers toegedraai in Kersliggies en blinkers, wat deur die historiese Kerkstraat in die middel van die dorp paradeer . . . Dit is hoe Tulbagh-Kersfees in Winter vanjaar begin.
Kroeë, handgemaaktekos-stalletjies en musiek in lewende lywe sal ook beskikbaar wees.
Kinders kan in ’n winterwonderland-sone speel – versier in alles wit met nagemaakte sneeu, gevul met springkastele, sagte speelgoed vir kleuters, menslike sneeumanne en meganiese ponieritte.
Daar is selfs hop-op-hop-af-pendeldienste na van Tulbagh se beste wynplase, soos Lemberg Wynlandgoed, Montpellier du Tulbagh en Saronsberg Wynlandgoed.. Vir meer inligting oor die naweek se feestelikhede, besoek die Tulbagh Christmas in Winter-Facebook-blad.




