Aangesien vandag (12 Mei) Internasionale Verpleegsterdag is, het die Wes-Kaapse departement van gesondheid in die Wynlande hulde aan verpleegsters gebring.

Volgens die departement word die Wes-Kaapse regering se gesondheidsdienste deur sy verpleegsters gedryf. Sonder die vaardighede, toewyding en lojaliteit van verpleegpersoneel sou gesonder gemeenskappe nie moontlik wees nie.

Sr. Linzy Mampa van Brewelskloof-hospitaal, ’n Worcesteriet, sê haar beroep kom van haar liefde vir mense.

“Ek is lief vir mense, maar nog meer hoe hulle my laat voel! Om iemand te kan behandel en later huis toe te sien gaan en te weet dat jy ’n rol in daardie pasiënt se beterskap gespeel het, maak dit werklik. Ek word altyd daaraan herinner om die klein dingetjies in die lewe raak te sien en te waardeer. Eerlikwaar, hierdie werk maak ’n mens nederig.”

Sy wil mense op Internasionale Verpleegstersdag herinner dat verpleegpersoneel geraak word deur dit wat pasiënte deurmaak. Verpleegsters is nie perfek nie, maar hulle doen alles wat hulle kan en sit baie ure agter die skerms in tot voordeel van die gemeenskappe wat hulle bedien.

Die departement vra die gemeenskap om solidariteit met gesondheidsorg- en verpleegpersoneel te wys deur hul gesondheid te beskerm: Kry jou Covid-inenting of booster en jou griep-entstof so gou as moontlik, want inenting kan die ernstige siekte en die kans op hospitalisasie verminder.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article