Candass Theunissen wen groot.Foto:


’n Digter van Touwsrivier sukkel nog om te glo sy het ’n toekenning vir haar skrywe ontvang.

Candass Theunissen het Saterdag (6 April) by die Cape Flats Literary Awards ’n toekenning vir haar eerste digbundel, Deur my oë, in die afdeling Beste digbundel in Afrikaans ontvang. Die bundel is al in 2020 gepubliseer.

“Dit het nog nie heeltemal ingesink nie, maar dit voel ook lekker dat my werk waardeer word. Dis nie aldag dat mense digkuns lees en waardeer nie,” verduidelik sy.

Albei haar digbundels is deur iemand in die gemeenskap benoem. Sy is toe genooi om die prysuitdelingseremonie in Gordonsbaai by te woon.

“Ek gaan nie jok nie. Ek was ’n bietjie bekommerd toe dit so lank vat dat my naam genoem word, want hoekom sal hulle my nooi as ek nie wen nie? Toe hulle uiteindelik my naam noem, ek het meer ’n gevoel van verligting ervaar.”

Sy maak tans gereed om haar derde digbundel vry te stel. Hierdie bundel bevat omtrent 65 gedigte.

“Die digbundel was eintlik ook al in 2020 klaar, maar ’n mens raak besig en fokus op ander dinge. Ekhet egter verlede jaar besluit ek moet met die publikasie klaarkry. Die boek is hier by my en sal binne die volgende maand of twee beskikbaar wees. Hierdie, soos my ander bundels, is ’n versameling gedigte wat oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe handel,” verduidelik Theunissen.

In die toekoms wil sy graag ook nog ’n boek skryf.

“Ek het nog nie ’n visie vir ’n boek gekry nie, maar dit is iets wat ek eendag wil doen.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article