Die Gedigtefees in McGregor vind van 26 tot 28 Augustus plaas wanneer ’n groot verskeidenheid interessante en dinamiese digters hul werk op hierdie kunsdorpie met digkunsliefhebbers gaan deel.
Die program sluit in voorlesings deur onder andere Margot Luyt, Koos van der Merwe, Daniel Hugo, Diana Ferrus en Lara Kirsten.
Engelse digters sluit James Matthews, Patricia Schonstein, Kobus Moolman en Khadija Tracey Heeger in, om maar net ’n paar te noem.
Louise Westerhout, die wenner van verlede jaar se gedigtekompetisie, is ook vanjaar op die verhoog. Daar is ook digters soos Margaret Clough en Stephanie Saunders wat jou eindeloos sal vermaak met hul fyn humorsin.
Groepe soos die UWC poets, Lingua Franca, Spoken Word Movement en Mothertongue sal ook optree. Vir ’n volledige lys van al die digters wat gaan deelneem, gaan na: https://mcgregorpoetryfestival.blogspot.co.za/
Die optredes sal plaasvind in die sielvolle tuine van Temenos, ’n pragtige agtertuin-amfiteater, die Wahnfried-teater, Edna Fourie Gallery, The Green Room en The Lion House.
Carol’s Pub is die plek om te wees vir die Voices on Fire-kroegprogram.
Daar is ook weer ’n aanbieding van die gewilde “Open Mic”-sessies wat gelei word deur Hugh Hodge. Enigiemand wat graag sy of haar gedigte wil voordra, is welkom.



