Ds. John Willemse beduie na die leë houers waaruit van die mikrofone gesteel is. Foto: Enrico Claassen

Enrico Claassen

Booswigte het hul kloue by ‘n plek van aanbidding ingeslaan toe hulle verlede week by die VGK Worcester-Oos in Van Huyssteenlaan in Worcester ingebreek en klanktoerusting ter waarde van sowat R30 000 gesteel het.

AO Vathiswa Jacobs, ‘n polisiewoordvoerder, bevestig die polisie ondersoek ‘n huisbraak- en diefstalsaak.

Sy sê niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Ds. John Willemse, leraar by die VGK Worcester-Oos, sê die inbraak moes Dinsdagnag of Woensdag (23 Julie) in die vroeë oggend-ure plaasgevind het.

Hy sê toe die koster, Neville Adams, later Woensdagoggend by die kerk opdaag, het hy gemerk die veiligheidshek voor die kerk se sydeur asook die traliehek wat na die kerksaal lei, staan oop.

Die twee hekke se slotte was netjies oopgeknip of afgesaag. Volgens hom het Adams onmiddellik besef daar is by die kerk ingebreek.

Willemse sê by nadere ondersoek is vasgestel dat die inbrekers vyf mikrofone, twee klankmengers en een luidspreker gesteel het.

Volgens hom het hulle die kabels wat na die klankmenger lei wat agter in die kerk staan, afgeknip. Hy sê ‘n brandblusser wat aan die kerk behoort, is in die kerk se tuin aangetref.

Volgens Willemse het die inbrekers die tweede luidspreker nader aan die sydeur geskuif wat daarop dui dat hulle van plan was om dit ook later te kom steel.

Hy sê die boosdoeners moes tydens die inbraak van kerse gebruik gemaak het omdat daar kersvet op ‘n gedeelte van die mat voor die preekstoel gelê het.

Volgens Willemse is ‘n tang wat vermoedelik in die voorval gebruik is, ook op die toneel aangetref.

“Hoewel ons mismoedig is dat so iets in die kerk gebeur het, is ons nie platgeslaan nie. Ons gaan voort.

“Ten minste is die kerk nie aan die binnekant gevandaliseer nie. Hulle het net ingekom, gevat en toe gaan hulle.”

Volgens Willemse was daar altesame vier begrafnisdienste die afgelope Saterdag in die kerk.

Hy sê Shaheen Bergh van Worcester was die kerk baie goedgesind toe hy al sy klanktoerusting vir dié doel beskikbaar gestel het.

Bergh het sy klanktoerusting Sondag (27 Julie) ook beskikbaar gestel toe ‘n konfe­rensie by die kerk gehou is.

“Die kerkraad en gemeente spreek regtigwaar ons opregte waardering uit, want ons was in ‘n doodloopstraat en hy het ons kom red.”

Willemse sê die kerk se dagbestuur het sy berekenings gemaak.

“Daar is tot die slotsom gekom dat in-

dien die kerk van sy versekeraar eis, gaan ons premie hoër wees, want ons het in die verlede ook al geëis vir inbrake by die kerk en die kerk is geleë in ‘n hoërisiko-gebied.”

Hy sê die kerk gaan nou die uitgawes probeer dek deur middel van geldinsame-

lings, want in dié stadium kan die Praise and Worship ook nie funksioneer nie.

Willemse sê enigeen wat donasies en of skenkings wil maak, kan die kerkkantoor by 023 342 2025 bel.

• Volgens Willemse het booswigte die vorige week ook op die kerk toegeslaan en twee reguleerders, kabels en pype wat na die gasstowe aan die binnekant van die kerksaal lei, gesteel.

Hy sê in hierdie voorval is ‘n slot oopge-

dwing om toegang tot die artikels te kry. Volgens Willemse het dit die kerk sowat R5 000 gekos om al dié artikels te vervang.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article