Diewe rig groot skade aan by Mega Oval-baan op Kleinplasie

mega oval
Die Mega Oval-renbaan in Worcester is die oudste en grootste motorsportklub in die land, maar verloor derduisende rande as gevolg van diefstal.

Die bestuur van die Mega Oval-renbaan in Worcester – die oudste en grootste motorsportklub in die land – sit met die hande in die hare oor die skade wat deur diewe op die terrein aangerig word. Dit jaag hulle derduisende rande uit die sak.

Benewens hierdie uitdaging is hulle ook onseker oor hul toekoms nadat die Breedevallei-munisipaliteit in Mei op ‘n raadsvergadering besluit het om Kleinplasie op ‘n vei­­ling te verkoop. Die vorige huurder van Kleinplasie, Orton King, het aan die begin van Augustus ontruim. Mega Oval Raceway het die baan by hom gehuur.

Diewe het weer die afgelope week toegeslaan en panele van die voorafvervaardigde mure waaruit die losies gebou is, weggedra. Volgens die bestuurder, Suzaan Bredenhann, is van die draad om die baan wat toeskouers beskerm, afgesteel. Die banke van die pawiljoene, ligpale, swaar staaldeure en -hekke word ook nie ontsien nie. Die ander geboue op die terrein loop ook deur. Van die staallamppale word oopgemaak en die drade afgeknip, wat veroorsaak dat die terrein snags donker is.

“Op een plek is ‘n deel van die grensmuur afgebreek en mense kom stort hul vullis daar,” sê Bredenhann.

Die Mega Oval-renbaan se kantore word deur alarms, elektriese omheining en gewapende reaksie beskerm, maar die res van die terrein ly skade teen ‘n groot tempo.

Volgens hulle het die BVM beloof dat hulle veiligheidsdienste sal instel.

Dié renbaan lok jaarliks duisende besoekers na Worcester wat in gastehuise oorslaap en restaurante en ander winkels in die dorp ondersteun.

“Verlede Augustus het ons tydens ons nasionale byeenkoms meer as 2 000 besoekers gehad, met 150 motors wat deelgeneem het. Ons het 190 lede en hou maandelikse byeenkomste wat tussen 800 en 1 000 besoekers het. Dit dra tog tot die dorp se ekonomie by,” sê Bredenhann.

Mega Oval het glo vandeesweek ‘n huurkontrak van die BVM ontvang om tot Desember aan te bly. Hul seisoen loop egter van September tot in Junie 2026.

Suzaan Bredenhann, die bestuurder van die Mega Oval-renbaan op Kleinplasie.

“Ons sou graag hierdie stuk grond wou aanhou huur, want ons het planne om uit te brei. Dit sal nie maklik wees om te hervestig nie. Elke sent wat ons hier maak, word teruggeploeg in herstelwerk en opgraderings. Die klei wat ons vir die baan laat inry het, kos derduisende rande.”

Kleinplasie lê baie inwoners na aan die hart omdat dit ‘n dekade lange geskiedenis het. Vroeër jare is groot landbouskoue aangebied – ‘n hoogtepunt in die dorp.

Kleinplasie bestaan uit twee dele. Slegs die onderste, ou landbouskou-deel, waar die blommesaal, die nywerheidsaal, die Pietman Hugo-saal, die Mega Oval-renbaan en -pawiljoen, die ou historiese Roodewal-opstal, buitegeboue, ‘n restaurant, chalets en trekkerstoor staan, sal verkoop word. Dié twee erwe is sowat 206 177m² en 3 599 m² groot.

Die deel waar die Worcester-museum geleë is, word nie deur die besluit geraak nie. Dit behoort aan die Wes-Kaapse departement van openbare werke en sal steeds as provinsiale museum bedryf word.

Volgens die raadsbesluit sal die verkoop op sekere voorwaardes geskied. Die eiendom sal uitsluitlik verkoop word vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling, toerisme, sport en ontspanning of vir opvoeding, is vroeër berig. Die koper moet toesien dat die historiese geboue onderhou en gerestoureer word.

Volgens Chad Malgas, die bestuurder van die munisipaliteit se kommunikasie-afdeling, is hulle besig om die veiling volgens die raadsbesluit te reël. Die datum sal bekend gemaak word sodra dit gefinaliseer is. Hy het bevestig die munisipaliteit het veiligheidsdienste vir die perseel gereël.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article