Suzuki se opvallend bekostigbare nutsmotor (crossover), die XL6, kan voorwaar eenvoudig net beskryf word as die perfekte gesinsmotor.

Nee, dit is nie ’n groot luukse “mom’s taxi” soos die Fortuner nie, maar is eerder ’n gerieflike sessitplekbussie wat maklik bestuur op vele terreine en nie so erg groot is soos baie soortgelyke motors nie.

Ja, hy het dalk nie al die luukshede wat ander bussies het nie, maar hy het wel die nodige bells-and-whistles en is ’n plesier om te bestuur, of jy nou in die besige stad is of op die skole-roete, of op ’n lekker sloertoer deur die Tankwa Karoo.

Oukei, kom ons begin by die begin.

Ruimte en gerief

Met die aflewering van die Suzuki XL6 by my huis vir toetsbestuur was ek eers bekommerd oor pakplek. Want agter die derde ry sitplekke lyk die bagasieruim maar baie klein. Ons was vyf grootmense wat die langpad gaan aandurf en daarmee gepaard was daar heelwat bagasie.

Waar die gewone bussies twee banke agter het, het die XL6 slegs twee los sitplekke in die middelste ry (met voubare armleunings en al) en ’n bank heel agter wat ook afklap.

Toegang na die agterste sitplekke is dadelik makliker en die kajuit lyk sommer ook spoggerig met die twee afsonderlike sitplekke in die middel.

Heel agter se passasiersruimte is perfek vir tieners of kleuters, maar in ons geval het die een sitplek baie goed gewerk vir ’n volwassene, terwyl die groter sitplek platgevou was vir bagasie.

Ja, die bagasieruim heel agter lyk klein, maar daar is ook onder in die bagasieruim ’n oopklapruimte vir kleiner pakgoed en ons het uiteindelik oorgenoeg ruimte vir mens en pakkerasie gehad.

Wat ook beïndruk het, was dat geen stof op die lang rit op erge stofpaaie na binne ingesypel het nie.

Suzuki benut sy 1.5-liter-petrolenjin in die XL6 wat ook te vinde is in bykans alle klein Suzuki’s en in menige Toyota-luikrûe ook.

Die voordeel van die K15B-enjin is dat dit ’n billike 77 kW en 138 Nm wringkrag uitdraai, en werklik min brandstof verbruik. Daar is twee afwerkingsvlakke om van te kies (GL en die GLX) en ’n viergang- outomatiese of ’n vyfgang-handratkas

Die 1 500-enjin van die Suzuki is heerlik ekonomies met brandstof en lig gelaai behoort hy maklik 4,9 F/100 km te handhaaf, wat goed is – maar ons het hom volgelaai met mens en bagasie, dus was ons brandstofverbruik nader aan 7 F/100 km.

Volgelaai moet jy geduld hê met verbysteek, maar hierdie is nie ’n spoedwa nie, en ons was heel gemaklik met die veilige trant waarteen ons gery het.

“Bells-and-whistles”

Die raakskerm is basies, maar doen wat hy moet. Jou slimfoon koppel in ’n kits koordloos aan die stelsel en die verstellings laat jou toe om jou musiek volgens tema (jazz, rock, klassiek) te laat blêr.

Daar is USB-sokke regdeur die kajuit versprei, wat die jongspan sal laat sug van verligting, asook ’n 12V-sok voor.

Ander standaarditems sluit in twee lugsakke voor, ABS-remme, ’n trukamera en sleutellose toegang met ’n aansitterknop.

Vir sy prys – net bokant R300 000 – bied die nuwe XL6 puik waarde. Dis ’n ruim gesinsmotor met eenvoudige, betroubare meganika. Die afwerkings lyk netjies en hy ry heerlik. Dieselfde kenmerke, maar met ’n frisser enjin, gaan jou dubbel kos by ’n ander vervaardiger.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article