Die Stoep-sagtebal-krieketspan loop steeds voor in die Rosku-20-boulbeurt-kompetisie.

Credit: SYSTEM

Robertson se sagtebalkrieketunie (Rosku) se 20-boulbeurt-kompetisie het Sondag 3 Maart by Vaderblad in Robertson voortgegaan.

Die wedstryde en uitslae:

Die Stoep teen die Royals

In die eerste wedstryd van die dag het die spanne van Die Stoep en Royals van Eerstelaan kragte gemeet. Die span van Royals het eerste gekolf en is almal vir slegs 52 lopies uitgeboul.

Vir Royals was dit slegs Devino (24), wat weerstand kon bied met die kolf. Brendon “Bello” Erasmus (3/2) en Ceanan (3/15) het vir Die Stoep verwoesting met die bal gesaai. Die Stoep het op sy beurt ook vinnig paaltjies verloor, maar Carling (29) het bestendigheid gebring en Die Stoep het sy wenlopies (53/6) gehaal en die wedstryd met vier paaltjies gewen. Chad (3/21) was Royals se beste bouler.

Superstars teen New Orleans

Superstars kolf eerste, en hoewel hy gereeld paaltjies verloor het, was die span 109 almal uit. Vir Superstars het Curtley (33) en Kirsten (21) met die kolf uitgestaan, met Tylon (4/14) en Lemart (2/22) wat vir New Orleans met die bal presteer het. New Orleans het egter die wind van voor gekry en kon net nie aan die gang kom nie. Almal is vir 74 lopies uitgeboul. Baksie (29) en Tylon (26) het hard met die kolf vir New Orleans geveg. Denvor (4/4) en Brian (4/19) is die manne wat verwoesting met die bal gesaai het. Superstars het die stryd met 36 lopies gewen.

Pen United teen Indians

Die hoofwedstryd van die dag het baie spanning opgelewer en toeskouers op die rand van hul sitplekke gehad. Indians het eerste gekolf en was vroeg met die rug teen die muur op 17/4, maar ’n vennootskap deur Elridge (36) en Steven (14), het Indians tot 85/10 gebring na iets waarna die boulers kon boul. Austin (3/5) en Masiano (2/2) was Pen United se beste boulers. Pen United het vroeg ’n paaltjie verloor (4/1), Roland (13) en Gregg “Pang” (31*) het kalmte herstel, maar Roland is uitgehardloop – die begin van paaltjies wat vinnig geval het. Pen United het uiteindelik een lopie in die laaste boulbeurt benodig en die wedstryd met een paaltjie gewen.

Sondag (10 Maart) is ’n dag van derbies vir die spanne van Dorpsig en Panorama.

Sondag se wedstryde:

. 09:00 – Dorpsig Barbarians teen Superstars

. 12:00 – Indians teen Royals

. 15:00 – Die Stoep t. Pen United

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article