Die gebou waarin die bestaande ondernemings Speedy Exhausts en Propshaft & CV Joint Services gehuisves word, is ’n historiese en bekende baken by die adres Hoogstraat 134.
Die gebou was aanvanklik deel van erf nommer een van 144 erwe wat vanaf 4 November 1819 verkoop is.
Vandag is dit moeilik om te glo dat hierdie rustige gedeelte van Hoogstraat in 1885 die finansiële kern van Worcester uitgemaak het, vertel Julian Kritzinger, geskiedenisliefhebber en burgemeesterskomiteelid vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling, toerisme, kuns en kultuur by die Breedevallei-munisipaliteit.
Dit is in die einste gebou waar plaaslike beleggers van Worcester groot verliese gely het, maar waar party plaaslike oordeelkundige beleggers van Worceter ook reuse-fortuine gemaak het.
In 1883 is die Worcester Exploration and Gold Mining Company Ltd gestig wat eers in die koppe agter die huidige Golden Valley Casino vir goud gemyn het, maar niks gekry het nie.
Kritzinger vertel dat sy oupagrootjie, PJ Rabie (1848 – 1942) van Sonja in Nuy, destyds op die direksie van die Worcester Gold Mining Company Ltd gedien het en dat hy tot vandag toe nog van die oorspronklike aandeelsertifikate van 1913 het en ’n oorspronklike akte van oprigting van die maatskappy van 1883 het.
In die 1885 het die Worcester Commercial Banktot stand gekom en sy hoofkantoor was op die hoek van Hoog- en Porterstraat waar Pick n Pay vandag is.
’n Bank het noodsaaklik geword in die 1880’s omdat dit die eerste bloeitydperk van Worcester se ekonomie was.
Brandewyn se prys het die hoogte in geskiet namate Britse skeepsverkeer om Kaappunt op pad na die Indiese en Birmese (Mianmar) oorloë toegeneem het. Dit was ook die tydperk van die heel eerste volstruisveer-bloeitydperk, en sommige Worcesteriete het so baie geld op die Barbertonse goudvelde gemaak dat ’n plaaslike bank nodig was.
Die plaaslike agente vir die Worcester Gold Mining and Exploration Company was die “Gebroeders Krone Bpkt Algemene Handelaars”, wat geleë was waar Speedy Exhausts en Propshaft & CV Joint Services vandag in Hoogstraat 134 is.
Uit hierdie gebou in Hoogstraat 134 het die magtige De Vos, Krone & Company Limited ontstaan wat later van tyd oorkant die pad ook sake gedoen het waar Audensberg Motors vandag is.
Dit was nadat PJ de Vos, van die De Vosse van Olifantsberg en eertydse burgemeester van Worcester in die 1930’s, tot die vennootskap toegetree het. In die jare voor, tydens en na afloop van die Anglo-Boereoorlog het hierdie maatskappy die monopolie op die Suid-Afrikaanse brandewynbedryf gehad.
Vandag leef hierdie twee pioniers, wat van die eerste grondleggers van nywerheid in Worcester was, nog voort in die name van Kronestraat in die nywerheidsgebied en De Vosstraat in Langerug.
Sedertdien het die gebou verskeie ondernemings gehuisves. Droomers was in die 1960’s en 1970’s in die gebou. In die 1980’s was dit Victor’s-paneelkloppers en vanaf die 1990’s het dit gedien as ’n winkel wat knaldempers verkoop.
- Speedy, wat na beraming nou ongeveer 30 jaar in die gebou is, lewer diens van hoogstaande gehalte, wat altyd gewaarborg word.
Hulle verskaf bande, uitlaatstelsels, trekstange, skokbrekers, vering en batterye, en werk in die Breedevallei en Karoo. Kontak hulle by 023 347 4703.
- Propshaft & CV Joint Services, wat sedert 1995 in dié historiese gebou geleë is, herstel en verkoop dryfaste, konstantesnelheidslasaste (CV Joints) en hou die meeste voertuie en vragmotors se onderdele op die perseel aan. Hulle kan “dieselfdedag-herstelwerk” doen. Dié onderneming verskaf ’n twee-jaar of 50 000 km-waarborg op die konstantesnelheidslasaste wat hulle installeer.





