Die vroue en manne in blou marsjeer in Jan van Riebeeck-rylaan voor die Wes-Kaapse provinsiale rede.Foto: Jana Scheepers


Inwoners van altesaam 70 lande wêreldwyd trek vanjaar hul kruisies in nasionale verkiesings, insluitend Suid-Afrika wat “’n belangrike jaar vir ons en die wêreld sal wees”.

Só het Alan Winde, Wes-Kaapse premier, Maandagaand (19 Februarie) in die Hugenote-gemeenskapsaal in die Paarl sy provinsiale rede geopen.

Die byeenkoms was ’n kans vir Winde om die hoogtepunte van die Wes-Kaapse nasionale regering uit te lig; verál as ’n poging om broodnodige stemme te werf vir vanjaar se verkiesing.

Winde het in ’n onderhoud met Paarl Post verduidelik dat van dié hoogtepunte ’n laer werkloosheidsyfer, minder kragonderbrekings en ’n verlaagte misdaadsyfer insluit, en dat daar meer hierop gefokus sal word indien die Demokratiese Alliansie (DA) weer in die volgende termyn in beheer is van die Wes-Kaap.

Volgens hom word daar ook gefokus op semigrasie, soos dit veral gesien kan word binne die Drakenstein, deur die nasionale tesourie te nader met ’n formele dispuut weens die onlangse begrotings- besnoeiings in die hoop vir nog finansiële steun.

Infrastruktuur

Volgens Winde se toespraak is die DA “desperaat om die Stad Kaapstad se spoorweë en hawe in stand te hou, maar kan dit slegs doen indien die nasionale regering en provinsiaal hande vat.

“Ons wil private beleggers na die hawe van Kaapstad lok sodat dit weer ’n doeltreffende logistieke spilpunt kan wees wat help om werk te skep en ekonomiese groei aan te wakker.”

Werkskepping

Die Wes-Kaapse regering se groei vir werksgeleenthede (G4J)-strategie is die provinsie se padkaart om meer werksgeleenthede te bewerkstellig.

“Tussen die tweede kwartaal van 2022 en die tweede kwartaal van 2023 het die Wes-Kaap se werkloosheidskoers met 6,6% tot 20,9% gedaal. Dit is die laagste werkloosheidsyfer in die land en aansienlik laer as in enige ander provinsies,” volgens Winde.

“Van die 169 000 werksgeleenthede wat in die vierde kwartaal van die boekjaar 2022-’23 in die land geskep is, is 167 000 hier in die Wes-Kaap geskep.”

Volgens Winde beteken dit dat die Wes-Kaap meer as 60% van Suid-Afrika se werksgeleenthede in die boekjaar 2023-’24 geskep het.

Die provinsiale regering se klein-, medium- en mikro-onderneming-aanjaerfonds (KMMO) het ook sedert 2019 meer as 860 sake-ondernemings bygestaan ??en 4 977 poste behou.

“Die fonds het hierdie KMMO’s gehelp groei, wat ’n bykomende 651 werksgeleenthede geskep het.”

Onderwys

Die Wes-Kaapse regering het sedert 2022 meer as 25 skole en 1 200 klaskamers gebou, terwyl die matriekklas van 2023 die slaagsyfer tot meer as 81% verhoog het.

Die top-matrikulante het in ses van die sewe matriekeindeksamens uit die Wes-Kaap gekom, en die top-wiskunde-kandidaat het vir vyf eindeksamens in ’n ry van die Wes-Kaap gekom.

Landbou

“Groei in landbou-uitvoer het die potensiaal om nog 20 000 werksgeleenthede te skep en ’n bykomende R22 miljard in te win, maar die krisis by die hawe van Kaapstad vernietig beleggings en werksgeleenthede in hierdie sektor,” het Winde in sy provinsiale rede gesê.

“Daarom beywer die Wes-Kaapse regering ons vir meer private- sektor-betrokkenheid en meer beheer oor hawens.”

In Mei 2023 het die provinsiale regering die “Port Dashboard”- program bekendgestel wat bedrywighede in hawens vergemaklik.

Dit meet aanwysers soos vragmotors en vaartuie se omkeertye, asook die tydsduur van ankerplek, die gemiddelde grootte, sowel as weerstoestande.”

“In gesprek met die huidige hawe-owerhede, die nasionale regering en die private sektor het ons teikens gestel om ons mededingendheid te verbeter, wat gereflekteer word op die ‘Port Dashboard’-program, maar omdat hulle hulp moet verkry van die nasionale regering, is geen teikens bereik nie.

“Die Wes-Kaap maak ook vordering met grondhervorming. ’n Onafhanklike navorsingsverslag vrygestel in Desember 2023 het getoon 83% van grondhervormingsboere wat ná-nedersettingsondersteuning ontvang het van die Wes-Kaapse departement van landbou, beskou hulself as suksesvolle landboubesighede.”

Veiligheid

Buiten beamptes van die wetstoepassingsbevorderingsplan (Leap) wat saam met munisipale wetstoepassers ontplooi is om munisipale wette af te dwing, het buurtwagte ook bygedra tot die Wes-Kaap se laer misdaadsyfers, volgens Winde.

Hy het in sy toespraak vir Aylmer Manko van Paarl-buurtwag uitgesonder en bedank vir sy vrywillige werk by dié buurtwag.

Mobiliteit

Die Wes-Kaapse mobiliteitspan het ’n openbarevervoerprojek reeds 10 jaar gelede van stapel gestuur en die fokus is tans in George waar ’n busdiens meer as “150 km op 34 roetes dek met byna 400 personeellede in diens, en vier miljoen passasiersreise jaarliks ??wat 70% van huishoudings in George dek”.

Winde het ook na die minibus-taxibedryf verwys en gesê dat die regering saam met die bedryf moet werk om mobiliteit op te skerp.

“’n Sleutelkomponent van mobiliteit in die provinsie is die minibustaxibedryf. Hulle bied ’n kritieke diens om ons burgers in staat te stel om by die werk, skool, hospitaal en meer te kom. Ons verhouding by tye is moeilik, maar ons erken die waarde wat hierdie bedryf vir ons inwoners bied. Met hierdie visie in gedagte sal ons voortgaan om met die bedryf saam te werk om te verseker dat hulle veilige en betroubare openbare vervoer voorsien wat wettig funksioneer.”

Elektrisiteit

Die Wes-Kaap is “goed op pad” om die eerste beurtkragvrye provinsie in die land te word, het Winde gespog.

Net minder as R7 miljard word in die volgende drie jaar bestee om die Wes-Kaap beurtkragvry te maak.

“2023 het die ergste beurtkrag tot nog ervaar. Die Wes-Kaap het tot op hede tussen R48,6 miljard en R61,2 miljard verloor op die reële bruto binnelandse produk (BBP) sedert beurtkrag die eerste keer aangekondig is. In 2022 het die Wes-Kaap R8,2 miljard se BBP verloor, waarvan tot R43 miljoen per dag gedurende fasevier- beurtkrag.

“Die Wes-Kaap sien ’n oplewing van son- en windenergie in die provinsie:

  • drie 75 MW sonkragplase sal in die Touwsrivier-gebied gesetel wees;
  • Atlantis Foundries en sy energievennoot werk saam aan ’n uitgebreide, ingebedde sonkrag-inisiatief;
  • Prescient Investment Management en H1 Holdings belê in ’n sonkragprojek wat volgende jaar krag aan ons stelsel sal lewer. Dit kan tot 100 000 huise van krag voorsien;
  • Duisende huishoudings het in sonkrag- en batteryoplossings belê – die jongste skattings is dat om en by ses gigawatt bygevoeg is.

“Die Stad Kaapstad het reeds aangekondig dat hy kontant sal betaal vir oortollige energie en ander munisipaliteite in die provinsie is besig om dieselfde te probeer doen.”

Verder belê die Stad Kaapstad-, Drakenstein-, George- Mosselbaai-, en Saldanhabaai-munisipaliteite ook van hul inkomste om energieveerkragtigheid te bereik, byvoorbeeld om batteryaangedrewe verkeersligte te installeer en watertoevoer in beurtkrag voort te sit, soos gesien kan word in die Drakenstein.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article