We don’t talk about trees getting older, we say they’re “growing”. Let’s use the same term about ourselves. We’re not getting older, we’re just “growing”. That’s the spirit of living.
Daar is al talle boeke geskryf oor die impak van die verouderingsproses. Skrywers vertel onomwonde hoe elkeen van hulle ouderdom ervaar. . F.A. Venter se Die dag toe ek my naam vergeet het (1995) is ’n uitstekende outobiografiese vertelling oor sy ervarings nadat hy ’n beroerte beleef het. Eers sy verblyf in ’n hospitaal en toe veral in die aftree-sentrum Altena in die Strand.
Só begin die boek: “Die dood het een môre suutjies by my kombuis in Seemeeu 1104 in die Strand ingekom. Baie suutjies. Juis toe ek besig was om die ontbytgoedjies op te was. Ek het hom nie gehoor óf gesien óf verwag nie. Ek het so goed gevoel. So vol energie. Sou nog die middag gaan rolbal speel. Ek het dié oggend waarlik kans gesien vir die lewe.
Omdat my vrou swaar deur emfiseem en ’n hartkwaal aangetas is, sorg ek elke oggend vir ontbyt en was daarna die skottelgoed.
Ek droë nog so af, toe val die vadoek uit my regterhand. Ek buk en tel dit op. Ek vermoed niks. Dis so ’n pragtige someroggend – helder, windloos.”
Ná dit weer en weer gebeur het, wéét hy daar is iets verkeerd: “Dit is ’n groot ding dié. Dis nie vir sommerso nie. Die vadoek val teen my sin en wil uit my hand – sonder dat ek enige pyn voel. En skielik tref dit my: Ek staan van aangesig tot aangesig met die dood. Maar is die dood dan so pynloos? So genadig?”
Venter sê: “Ek het baie verloor – die kosbaarste. Maar ek het nog geleer om te verduur. Te aanvaar. Tevrede te wees. Anders sou dit ondraaglik wees.”. Olga Kirsch stel dit ook duidelik in een van haar gedigte:
Hoe het dit skielik laat geword?
Die oggend was so lank en stil,
die middag ruim en warm en geel.
Die afdraand van die dag is kil.
Hoe het dit skielik laat geword?. In Spertyd skryf Elsa Joubert oor die lewe van oumense, verlies in verskillende vorme: “Eintlik kan Verlies die naam van al sulke oumensgeboue wees. Elkeen kom hierheen omrede verlies. Óf sy lewensmaat, óf sy gesondheid. Of ’n lam been of ’n beskadigde kop, ’n kop wat soos ’n gieter met lekplekke is.”
Besonder frustrerend is die verlies van woorde en van gedagtes. Dit gaan gepaard met ’n nuwe perspektief wat ontwikkel moet word, die besef “jy staan nie meer in die hoofstroom nie. Jy het jou kans gehad. Dis verby”. Sy het ’n randfiguur geword.
Die proses van ouer word
In die voorafgaande vertellings deur skrywers oor hul persoonlike ervarings van ouderdom en die uitdagings daaraan verbonde, het ek die gevolgtrekking gemaak dat “ouderdom” slegs vir deurwinterde mense met ’n fyn lewensbalans, ’n oop kop met nugtere denke, en ’n onuitputbare humorsin oorleefbaar is!
Die gemeenskaplikheid van die ervaring van geweldige verliese is seker die mees algemene kenmerk van die ouerword-proses.
Aanvanklik die verlies van status en inkomste by aftrede, later die verlies van gesondheid, mobiliteit wat lei tot die verlies aan jou jare lange woonplek, diere, nog later die verlies van bekendes en familie wat kan lei tot eensaamheid. Liggaamlike verliese in terme van gesondheidsprobleme lei tot verswakking, verlies aan mobiliteit, aftakeling van die menslike liggaam.
Die somtotaal van die voorafgaande lei tot groter afhanklikheid van hulp – hulp van hulpmiddels, mense, toerusting soos gehoorapparate, loop-apparate en nog meer. Aanvanklike onafhanklik bly en selfversorging, word opgevolg deur tuisversorging deur kundiges, later opname in ’n versorgingsfasiliteit of tehuis vir ouer mense, met die opname in ’n 24-uur-per-dag-versorgingsentrum as laaste heenkome. Hierdie vooruitskouing van die verouderingsproses en die implikasies daarvan kan baie donker vir die gemoed wees, en is die persoonlikheid en gesindheid/houding van die individu van kardinale belang.
Hoe mense oor ouderdom dink, gaan bepaal watter uitwerking dit op hulself, die mense om hulle, en toekoms gaan hê. Om bekommerd, angstig en depressief te voel, is menslik en ’n natuurlike reaksie op onsekerhede of verlies-ervarings. Krisisse en moeilike tye verander mense, hul verhoudinge en toekoms óf ten goede óf ten kwade. Dis belangrik om ouderdom as ’n geleentheid te beskou om die beste in jou na vore te bring, om weer vanselfsprekende dinge te waardeer en om sekere dinge beter te kan doen.
Die geskiedenis het ons geleer dat ná elke geweldige krisis vir die mens of natuur daar ’n nuwe tyd van opbou, herstel en dikwels versnelde of anderse groei voorlê. Die mooi en karaktervolle bome het dikwels swaar gekry, in hul moeisame verskrompelde kronkels en boë, lê hul sterkte én prag.
Ons beleef ouderdom op ’n manier as ’n woestyn-ervaring, ’n gestrooptheid van die bekende manier van doen, dink en wees. Dit kan vir ons juis ’n tyd van visie, heling en stilte word . . . ’n tyd waarin jy tot inkeer in jouself kan kom. ’n Tyd om te begin om in ’n ander rat te lewe – stadiger, rustiger. Dit is ons geleentheid vir meer tyd vir mekaar, vir dink, wonder, besin, lees . . . om dié dinge te doen waarby ons nét nóóit uitkom nie. Dit kan ook ’n kreatiewe tyd van ontdek wees: jou eie innerlike sterkte, aanpassingsvermoë en kreatiwiteit om nuwe dinge te skep of te leer.
Ouderdom verg ’n nuwe manier van wees, van leef en dink
Neem verantwoordelikheid, vir jou fisieke, finansiële, maar veral ook emosionele en spirituele welstand. Wanneer jy voel dat jy nie meer jou eie finansies kan hanteer nie, vra die hulp van jou kinders of finansiële kenners.1. Dink verder as die nou en jou eie belang. Dink in terme van onmiddellike behoeftes en noodsaaklikhede, maar ook aan die toekoms en volhoubaarheid daarvan vir jouself.2. Groei of gaan onder. Wees pro-aktief en doen nou dinge om jou lewe beter te maak.3. Fokus op wat nou binne jou beheer is – wat jy nóú kan doen.4. Hou kontak met jou mense en gebruik die tyd om verhoudinge met hulle te versterk en te bou via elektroniese en telekommunikasie-media tot jou beskikking. 5. Maak seker dat jy ’n positiewe ingesteldheid het – dit maak die verskil wat jou anders laat dink, optree en die mense om jou positief maak en hou.
Om gelukkig in jouself as mens te wees, is belangrik
. Vermy die depressiewe leefstyldinge, soos om ure net niks konstruktiefs te doen nie; . jou van mense te onttrek en net in jou kamer te bly, of niks van jou te laat hoor nie;. toelaat dat jou dae en gemoed deur die negatiewe inligting in die media beïnvloed word, of net daaroor te praat en te dink;. jou persoonlike versorging afskeep nie.
Lydia Corbett – Maatskaplike werker/Social worker
1. Slaap: Maak seker jy slaap goed en genoeg.
2. Eet: Eet gesond en genoeg.
3. Oefen: Wees kreatief en bedink nuwe en ander maniere om te oefen – klim trappies, of gaan stap saam met ’n vriend/vriendin waar dit veilig is.
4. Wees netjies op jouself en jou omgewing. Versorg jou keurig – dit laat ’n mens goed voel.
5. Doen lekker dinge waarvan jy hou. Wees goed vir jouself!
6. Sorg vir die verhoudinge in jou lewe – belê in vriendskappe. Doen lekker dinge saam met vriende of kennisse, speel speletjies, speel kaart, bou legkaarte, hou vasvrae . . . maar doen dinge sáám. Maak ’n afspraak met vriende – trek jou mooi aan en kuier, drink saam koffie of ’n glas wyn, nooi hulle na jou woonstel of kamer oor. Maak afsprake met mekaar en fliek voor die TV met springmielies, luister saam musiek, of sit net en gesels. Sáámdoendinge keer die gevoel van alleenheid. So hou jy jouself emosioneel gesond.
7. Kommunikeer via die internet of telefoon met jou vriende en familie elders: e-posse, telefoonoproepe, gesprekke op WhatsApp, skryf briewe. Wees dankbaar vir wat jy steeds in jou omstandighede het. Skryf dit daagliks neer, en sê dit vir ander: Ek is dankbaar vir die ruimte en gemak van my woonstel/kamer, water, elektrisiteit, my uitsig, vir mense wat vir my omgee, my toegang tot mediese sorg indien ek siek sou word, vir kos, vir die natuur, die seisoene daar buite.
8. Maak ’n lys van dinge wat jy wil, en kan doen. En merk af wat jy al gedoen het. Dit gee mens ’n gevoel van genoegdoening dat jy iets bereik en vermag.
9. Gebruik jou sin vir humor – ’n lag op sy tyd is helend.
10. Maak met kreatiwiteit jou omgewing interessant en anders. Skuif jou kamer, dinge teen jou mure, steek ’n paar vars blomme in, bad/stort by kerslig. Pak jou kaste reg sodat dit meer verbruikersvriendelik is. Gee weg wat jy nie gebruik nie.
11. Dis ’n goeie tyd vir kreatiwiteit: Skryf jou lewensverhaal, doen naaldwerk, brei, leer teken of skilder.
12. Leef bewustelik in die oomblik – raak bewus van die dinge om jou, sien die klein dingetjies in jou omgewing raak en waardeer dit!





