“Hoe hou ’n mens die pot aan die kook, maar jy kan nie eens bekostig om iets in die pot te sit nie?”
So sê Ailene Olifant (37), ’n inwoner van Riverview. Sy en haar man werk albei in en om ander mense se huise – sy as skoonmaker en hy as tuinman.
Olifant se sy en haar man kan nooit staatmaak op ’n permanente inkomste nie omdat hulle maar hier en daar loswerkies aanvaar.
“Party weke kry ons maar saam R300 en ander weke ’n bietjie meer. Dit gebeur ook dat ons soms niks kry nie. Ons maak maar staat om hier en daar by mense se huise te werk, maar dit is net as hulle ons nodig kry.”
Sy sê hulle het twee kinders wat by hulle woon en die nood loop gereeld hoog in die huishouding.
“My dogter is 17 en ons seuntjie is vyf. Hulle kort gereeld goedjies vir skool, maar hoe moet ’n mens nee sê? Hoe moet ek hulle in die oë kyk en sê ek kan nie? Dit breek my hart. Ons veg om te oorleef. Om kos op die tafel te kry en ten minste krag te hê, is maar ons nommer-een-prioriteit,” verduidelik sy verder.
Olifant verduidelik ook die invloed wat duurder kragpryse op hulle as ’n gesin het:
“Ons het elke maand sowat R200 se krag gekoop, en daarmee het ons uitgekom. Van verlede maand af betaal ons R370 vir krag. Dit is baie. Ons bid maar elke aand dat ons situasie sal verander. Ek soek iets meer permanent en my man probeer ook sy bes, maar met sy kroniese asma en depressie is dit ’n gesukkel.
“Ek kon drie jaar terug met R100 kookolie, ’n brood, melk en bone vir sop koop. As ek dit vandag gaan koop, betaal ek dubbel daardie bedrag.
“Hoe moet ons nou oorleef – alles kos amper dubbel en ons inkomste het nie saam met dit gegroei nie.”
Die Williams-gesin se patriarg, Solomon (55), vertel dat dit met hom en sy dogter net so swaar gaan.
Hy is die enigste broodwinner en sy vrou is in 2020 aan Covid-19 oorlede.
Hy is ook ’n enkelouer wat probeer om die moeilike tye te oorkom.
“My vrou het as ’n skoonmaker by die ‘mall’ gewerk en het ’n redelike inkomste verdien.
“Ek het in Ashton op ’n kontrakbasis gewerk om te help paaie bou, maar die kontrak het tot ’n einde gekom. Nou maak ek maar houtgoedjies en probeer om dit te verkoop.
“Ek doen ook hier en daar staalwerk en wag dat iemand my laat weet van iets. Ek stuur my CV orals,” verduidelik hy.
Volgens Business Insider het pryse in Suid-Afrika die afgelope drie jaar geweldig gestyg. Navorsing wys dat kospryse met gemiddeld tussen 10% en 16% gestyg het, met uiterste gevalle soos kookolie wat met bykans 35% gestyg het. Brandstof het ook met sowat 40% gestyg en krag en basiese dienste met tussen 15 en 25%.





