Platteland Donkie-duo se Adriaan Botha (links) en JG du Plessis.


Twee lede van die Rawsonville-rugbyklub, JG du Plessis (33) en Adriaan Botha (32), het onlangs hul lywe popster gehou toe hulle ’n sokkietreffer genaamd “Die ou N1”, wat oor die rugbyklub se avonture gaan, bekend gestel het.

JG du Plessies, die een lid van die duo se band, Platteland Donkie, begin die lied deur te sing hoe die groen aangesig van die wingerde ’n mens begroet wanneer jy na Rawsonville op die ou nasionale pad van die Hugenote-tonnel af ry.

Saam met ’n opbeurende kitaar-deuntjie sing Du Plessis verder en verduidelik wat als in Rawsonville te ete en drinke is, voordat die lied ’n draai gaan maak by die stoute en skreeusnaakse tradisies van die Rawsonville-rugbyklub.

Van hierdie tradisies wat in die enkelsnit na vore kom, is om ná oefeninge of wedstryde ’n dop by die klubhuis te drink. Voordat “die eerste vrou bel” en haar man huis toe roep, word die klubhuis van binne gesluit en die sleutel by die venster uitgegooi sodat die spelers verder móét kuier.

Volgens Botha het hy en Du Plessis mekaar sowat drie jaar gelede ontmoet weens hul betrokkenheid by die Rawsonville-rugbyklub en besef albei het ’n passie vir musiek.

Ná ’n braai en ’n tydjie se gesels het dié twee besluit om hul liefde vir musiek verder te neem en Platteland Donkie-band is in Oktober 2021 gestig. ’n Week gelede is hul eerste enkelsnit bekend gestel deur Olly van Schalkwyk van Ollyvans Recording Studios in Franschhoek.

Du Plessis sê die duo is dankbaar vir Olly se bystand. Volgens hom het die duo op hierdie naam besluit nadat hy dit op Peach van Pletzen se YouTube-kanaal in ’n grap gehoor het, waarna Du Plessis toe vir hom ’n boodskap gestuur en toestemming gevra het om die naam te gebruik.

Luisteraars en volgelinge van Platteland Donkie kan ook uitsien na nog ’n enkelsnit wat in Mei bekend gestel word, asook “Die ou N1” se musiekvideo, wat binnekort vrygestel gaan word.

Botha is oorspronklik van Rawsonville en boer tans op sy familie-plaas, terwyl Du Plessis vier jaar gelede van Vredendal af Rawsonville toe getrek het en tans as ’n berader praktiseer.

Albei lede van die groep is steeds betrokke by die Rawsonville-rugbyklub – Botha as ’n speler wat ook in die komitee dien, en Du Plessis as ’n kommentator.

Du Plessis het ook verduidelik dat die doel van Platteland Donkie en die vrystelling van “Die ou N1” was om sy en Botha se passie vir musiek uit te leef en ’n liedjie vir die Rawsonville-rugbyklub te skryf wat gespeel kan word wanneer hul op die veld uitdraf.

“Ons is average Joe’s en doen dit nie vir die geld nie. Ons is massively dankbaar vir die ondersteuning sover,” sê Du Plessis.

. “Die ou N1” is beskikbaar op alle groot musiekplatforms soos Spotify, Deezer, Apple Music, en YouTube. Volg Platteland Donkie op Instagram.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article