Die span van die groente-en-vrugtewinkel, die Bloubakkie.
Die span van die Bloubakkie se wortels lê in Worcester.

Die Bloubakkie, ‘n bekende winkel in Kleinmond waar mense van oor die Boland heen gaan om hul vars groente en vrugte te koop, se oorsprong lê in Worcester.

Volgens Johan Olivier, die eienaar van dié gewilde winkel in Kleinmond, is hul deure vanjaar al 19 jaar oop en gaan hulle van krag tot krag. Hy vertel met ‘n tikkie nostalgie om die winkel destyds te open, was nie soseer vir hom ‘n besluit nie, maar ‘n doel.

“Ek onthou hoe my pa elke Vrydagaand by oom Jenty van High Street Fruiterers in Worcester vars vrugte en groente vir ons gesin gekoop het. Oom Jenty se aansteeklike entoesiasme, sy uitgebreide kennis en die voortreflike gehalte van sy produkte het ons keer op keer laat teruggaan. Vir ons kinders was dit nóg meer spesiaal, want ons het nooit daar weggestap sonder ‘n lekker of twee in die hand nie. Ek dink dit is waar die saadjie geplant is vir dit wat moes volg,” vertel Johan.

Die Bloubakkie is 'n groente en vrugtewinkel in Kleinmond.
Die Bloubakkie in Kleinmond het sy begin gehad met straatverkope in Worcester.

Ná die voltooiing van sy BComHons-graad en talle teleurstellende werksaansoeke, waar hy óf as te onervare óf as oorbekwaam beskou is, het hy hom in 2005 uit nood op Kerkplein in Worcester bevind. “Daar het ek begin om groente en vrugte van die omgewing uit ‘n bakkie te verkoop – eers met ‘n geel bakkie, en later met ‘n blou Hilux. Die eenvoudige begin het my in staat gestel om ‘n inkomste te skep, die plaaslewe van nader te beleef en my bemarkingsvaardighede prakties toe te pas. Die plaaslike gemeenskap het my hier op die hande en in die hart gedra.”

Kleinmond was vir hom ‘n tweede tuiste. Sy gesin hou sedert 1975 elke jaar in Kleinmond vakansie en dis een van die redes waarom Kleinmond nou die “huis” van Die Bloubakkie is.

“Die stil tye in Worcester oor Kersfees totdat die skole weer begin het, het my ‘n geleentheid gegee om waatlemoen, spanspek en ander somervrugte na Kleinmond aan te ry, daar te verkoop en terselfdertyd ook vakansie te hou. Wat begin het as ‘n enkele vrag om brandstofgeld te dek, het drie of vier vragte geword.”

Die pad wat Die Bloubakkie van Worcester na Kleinmond gestap het, was nie altyd net maanskyn en rose nie. Johan vertel die lewe as straatverkoper was soms uitdagend, met groot risiko’s, baie verliese en dikwels blootstelling aan die elemente.

‘Moeitelose optimisme’

“Aan die een kant het Die Bloubakkie uit sy nate gegroei – tot so ‘n mate dat dit dikwels moeilik was om alles te hanteer. Aan die anderkant het ek ‘n lewe begeer met groter gerief en minder bekommernis vir my gesin. Die Bloubakkie het sy deure op Kerkplein in Worcester in 2002 gesluit en ek het die volgende hoofstuk aangepak deur ‘n rekenaarkursus in webontwikkeling in Kaapstad te volg.”

Ná die kursus het hy toesig by die matriekeindeksamen van HTS Drostdy gehou, waarna die hoof hom die geleentheid gegee het om as rekenaarstudieonderwyser by die skool aan te sluit.

“Die vier jaar wat gevolg het, was ‘n besondere ervaring – ‘n tyd waarin ek die voorreg gehad het om deel te wees van jongmense en ouers se lewe en om op my manier ‘n positiewe verskil te maak. Tog het ek met verloop van tyd besef ek was nie opgewasse vir die uitdagings wat die onderwys bring nie, en so het die soeke na my ware doel voortgeduur.”

In 2006 het alles perfek reg verloop, insluitend ‘n geskikte perseel. Die Bloubakkie het sy deure in November langs Oupa se Boekwinkel in Kleinmond geopen. En, soos hulle sê, die res is geskiedenis!

“Ons was van die eerste dag af besig en almal se ondersteuning het gehelp om Die Bloubakkie te laat groei en gou van perseel te laat verwissel.

“Ons het in 2018 teruggeskuif na die huidige Allerlei-perseel, wat my broer en sy vennoot intussen gekoop en vir ons doel ingerig het. Die winkel is diep gewortel in die gemeenskap se ondersteuning en personeel wat omgee. Klante het familie geword.  ’Kastimmers’ en Die Bloubakkie het steeds nie brieke nie.”

Stap jy die winkel in, groet Johan jou altyd, stop ‘n lekker of vrug in die hand en knoop ‘n geselsie aan. Met sy positiewe gesindheid stap jy met ‘n glimlag, en klomp inkopies, uit. Johan sê om optimisties te wees, is vir hom moeiteloos.

Groot koop-en-kuier-planne

“Ons het die voorreg om in ‘n pragtige omgewing te woon, met die natuur letterlik op ons voorstoep. Dit is ‘n ongelooflike eer om deel van ander se lewe te kan wees en om mense se hartlikheid en omgee te ervaar wanneer hulle hul vreugdes, maar ook hul hartseer, met ons deel. Ons winkel is afhanklik van die oorvloed van die natuur, die toewyding en harde werk van die boere en hul plaasmense, ons personeel sowel as die lojale ondersteuning van ons klante. Alles is in Sy hande en alles is net genade,” sê hy.

Die Bloubakkie is alombekend en wanneer mense Kleinmond besoek, is dit een van die eerste winkels waar hulle aanklop.

“Hier was al ‘n paar bekendes in die winkel, onder wie Kobus van den Berg, wat verskeie rolprente gemaak het en ook ‘n inwoner is. Hy kom ondersteun ons gereeld en ry dan sommer bekendes in sy outydse blou Peugeot-bakkie saam, soos Deon Meyer, Arnold Vosloo, Jak de Priester, Tim Theron, Leandie du Randt . . .  Dan is Sandra Prinsloo en Pierre van Pletzen (Oubaas ) ook gereelde ‘kastimmers’. Joanie Combrinck, Neels van Jaarsveld, Marciel Hopkins, Dana Snyman en ander bekendes was al hier.”

Johan se langtermyndoelwit iets vir sy gereelde klante om na uit te sien.

“Ons beplan om groter te gaan in Kleinmond, om dit geriefliker en ‘n meer gesellige koopkuier- ondervinding vir ons klante te maak, maar nie te groot nie, om steeds ‘n persoonlike diens te lewer. Daar is ook die geleentheid om Die Bloubakkie in die jare wat kom, na meer plekke uit te brei.

“Die meeste van ons voorraad kom van plase in die Klein-Karoo, Boland en omliggende gebiede. Ons wil graag naby ons aankoop-omgewing ons volgende Die Bloubakkie oopmaak. Daar is reeds ‘n paar goed gereed, soos ‘n stoor, koelkamer en stelsels. As dit suksesvol is en ons ons lesse geleer het, kan ons dalk Die Bloubakkie as franchise uitbrei.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article