Nie baie mense kan vandag sê dat hulle ’n oorlog en gevangenskap oorleef het nie. Dit is egter nie die geval vir Marga Dettmann nie.
Tannie Marga het verlede week haar 102de verjaarsdag gevier en het die geheue van ’n olifant.
Dettmann onthou gebeure van die jare veertig soos gister.
Tannie Marga is op 14 Maart 1920 in Rynland, Duitsland, gebore.
Sy het in 1954 op ’n skip genaamd Suiderkruis na Suid-Afrika gekom. Volgens haar het dit twee weke geneem om van Amsterdam tot in Kaapstad te vaar.
“Van Kaapstad het ons met ’n Dakota gevlieg, ek was so bang gewees, maar dit was mooi,” sê sy.
Sy en haar man het na Krugersdorp verhuis, waar haar man as ’n ingenieur op die myn gewerk het. Hulle het daar gewoon tot haar man se aftrede op 60, en toe het hulle na Somerset-Wes en uiteindelik in 2021 na Worcester verhuis. Tannie Marga woon tans in Fairy Glen, waar ’n versorger na haar omsien.
Sy het ’n 78-jarige dogter en ’n 72-seun, wat verlede jaar oorlede is. Haar man is in 1999 oorlede.
Sy het ’n interessante en vol lewe gehad. Sy was in die Duitse weermag ’n sekretaris vir ’n generaal in Suid-Noorweë. Sy vertel ook hoe sy as jong meisie moes diens doen op ’n plaas, omdat die mans in die weermag was.
Sy het haar man in haar kantoor ontmoet toe hy sy naam by haar kom registreer het. Een van die meer hartseer staaltjies wat tannie Marga met Standard gedeel het, is toe sy in 1945 deur die Russe as gevangene aangehou is.
“Ek het vier jaar in ’n gevangenekamp deurgebring, waar ons harde werk moes doen soos bome sny. Baie mense is dood van hongersnood en die koue winters. Die soldate het die meeste van die mans doodgeskiet en ons kon hulle nie begrawe nie, want die grond was te hard. Ons moes hulle toegooi met sneeu en toe die lente aanbreek en die sneeu smelt, moes ons die liggame in die grond begrawe.”
Sy vertel van ’n pelsjas wat sy destyds vir 400 roebels verkoop het om aan die lewe te bly. Sy, ’n regte wandelende geskiedenisboek, sê die tyd is te kort om alles oor haar lewe te kan vertel.




