Die Double Foot Shooters-sokkerklub het Ballers FC Saterdag (28 Mei) 3-0 in ’n superligawedstryd (stroom B) in die Esselenpark-stadion geklop.

Met hierdie oorwinning het DFS met 33 punte in die topposisie in stroom B geëindig. Dit bring mee dat hulle volgende seisoen in die promosieliga sal meeding.

Albei spanne het in die eerste helfte goeie aanvallende spel opgedis, maar swak afronding was hul groot doodsteek. In die tweede helfte het DFS die opposisie se verdediging tot die uiterste beproef met ’n verandering in hul aanval vanuit die middel met Zandre Appels, Keanu Links, Abongile Jafta, Linfred Matolla en Selwyn Booysen aan die voorpunt. Met goeie balverspreiding het DFS die opponent op die agtervoet gehad.

DFS se druk het vrugte afgewerp met Appels wat ’n tweekuns behaal het, waarna Eldoraan Nicolaas ook ’n goeie doel in die laaste kwartier van die wedstryd afgestuur het.

DFS se afrigters, Willie (Buksie) van Rooyen, Bardo Verhoog en Waldo Verhoog, het ná die wedstryd hul spelers vir puik spel, veggees en karakter geprys.

Appels is as speler van die wedstryd aangewys.

DFS speel op 11 Junie in die Zwelethemba-stadion teen die wenners van stroom A, Worcester City, om die algehele wenner van die superliga te bepaal.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article