’n Ma van Worcester het onlangs ’n vreesaanjaende ervaring gehad toe sy in haar motor in verkeer vasgekeer was terwyl haar baba alleen in haar huis toegesluit was.
Nerine Viljoen (37), ’n verkoopskonsultant van die dorp, het Woensdag 23 November ’n oproep van haar buurvrou ontvang wat haar ingelig het dat haar babadogtertjie se oppasser, Christhina Paulse (33), besig was om wasgoed buite op te hang toe die veiligheidshek per ongeluk met die sleutel binne die huis toegeklap het.
“Ons sewe maande oue babatjie, Nerissa, is ’n regte woelwater. Sy is vrek besig en nuuskierig. Christhina werk al sowat vier jaar by ons en sorg dat ons huis altyd mooi netjies is. Sy is uitstekend met kinders. Sy sien al die afgelope vier maande na klein Nerissa om en ons het nog nooit enige probleme ondervind nie.”
Nerine sê sy was Woensdag omstreeks 12:55 op pad om ’n kliënt in die middedorp te ontmoet toe haar buurvrou haar bel. Christhina het haar histeries ingelig oor wat gebeur het.
“Nella, jy moet nou huis toe kom. Ek is uitgesluit en Issa huil vreeslik. Ek kan nie inkom nie. Ek is baie jammer. My sleutel is in die huis. Jy moet gou-gou kom help. Ek is baie jammer,” het Christhina se oproep gelui.
“Ek het net daar in die pad in Kerkstraat naby die plein omgedraai. Die skole het pas uitgekom en die verkeer was ’n nagmerrie. Ons woon in Worcester-Wes, en dit was net so 5 km om by my huis te kom. Maar dit het my uiteindelik weens die swaar verkeer 20 angsbevange minute geneem om daar te kom.
“Hierdie dorp is nie eintlik gerat vir noodgevalle nie – veral nie in tye waarin verkeersopeenhopings plaasvind nie.
“In die middae kom al die skole uit, leersentrums kom uit, mense gaan op ete en sakeondernemings moet aanhou funksioneer. Dit is ’n gemors.”
Toe Nerine by die huis stilhou, het sy dadelik na die agterdeur gehardloop, waar Christhina in trane gestaan het.
“Ek was baie bly om haar te sien. Ek was bang sy gaan kwaad wees, want ek sou wees as dit my kind was. ’n Ongeluk gebeur mos vinnig en die duiwel vat mos maar sy kanse. Sy het dadelik oopgesluit en ingehardloop en Sussie opgetel. Issa het dadelik net begin lag. Toe begin ons almal eers lag, en toe huil ons,” het Christhina aan Standard vertel.
Nerine verduidelik dit was trane van blydskap en hulle het eintlik oor alles begin lag.
“ ’n Mens werk jou so op en dinge gebeur, maar die ergste gebeur dalk nooit en almal maak foute – ons is net mense. As ’n mens paniekbevange raak, werk jou kop oortyd en dan besef jy eintlik net hoe dom jy was om so ’n deur in te bou.”
Nerine en haar man het intussen ’n ander soort slot vir die deur laat aanbring en Christhina sê sy dra nou die sleutel aan ’n toutjie om die nek om seker te maak.




