Jaar ná jaar het dié verpleërs getrou vir werk opgedaag om hul medemens te dien.
Die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welstand het onlangs met groot trots verskeie personeellede by gesondheidsfasiliteite vir jarelange getroue diens vereer – in sommige gevalle vir diens van tot so lank as 40 jaar.
Personeellede van die Breedevallei, Drakenstein, Langeberg, Stellenbosch en Witzenberg het die geleentheid in Worcester bygewoon.
Cornelia van der Horst, stafverpleegster, het vir die grootste deel van haar loopbaan van 40 jaar by die Brewelskloof-hospitaal in Worcester gewerk.
Haar kollega, sr. Rochelle van Rooyen, het gesê dat sy ‘n mens met ‘n groot hart en baie oplettend is, dat sy altyd gewillig is om ‘n nuwe sisteem te implimenteer, en altyd gesorg het dat pasiënte omvattende sorg ontvang.

“Sy was by meer as een geleentheid die personeellid van die maand. Ons sal altyd haar ysbrekers by vergaderings onthou, en ook die stukkies gemmer waarin sy vir goeie gesondheid geglo het, en die koekies wat sy gebring het,” het van Rooyen gesê.
Maria Britz van die Ceres-hospitaal, verpleegassistent, spog ook met 40 jaar se diens.
Geoffrey Vermeulen, assistent-bestuur- der van verpleging by die hospitaal, het gesê dis ‘n voorreg om saam met haar te kon werk.
“Sy sal enigiets doen om pasiënte en personeel te help. Tydens Covid-19 was daar ‘n tyd waar baie van ons ervare personeel af siek was, of in afsondering omdat hulle ‘n nabye kontak was. Dit het so uitgewerk dat me. Britz een van die min personeellede was wat tussen onervare personeel ingestaan het. Maar sy het gesê sy sal seker maak dat alles goed verloop, en dit was so. Sy is iemand op wie se nommer jy altyd kan druk.”
Die assistent-bestuurder vir verpleging by die Montagu-hospitaal, sr. Elbie van Zyl, het gesê dat sy dit baie moeilik vind om te glo dat sy reeds 30 jaar se diens verrig.
“Die spanne waarvan ek bevoorreg was om oor die dekades deel uit te maak, het ‘n groot rol gespeel in my vermoë om aan te gaan ten spyte van uitdagings – omdat daar ondersteuning is. Die waarde hiervan kan nie genoeg benadruk word nie,” sê sy.
“Dit is ook vir my ‘n persoonlike keuse om te bly, en om weer en weer te commit aan die oortuiging om te dien en ons diens te maak werk.”
Dr. Lizette Phillips, die departement se hoof van gesondheidsdienste in die landelike areas van die Wes-Kaap, het die personeel gelukgewens met hierdie merkwaardige mylpale.
“Julle het gekom, en ten spyte van uitdagings het julle gebly,” het Phillips gesê.
“Danksy julle diens is ons sterker, ‘n meer verenigde front en is ons beter toegerus om die gemeenskappe te dien. Julle verander lewens.”





