Die bababoks in Worcester is in Mei geïnstalleer. Bo staan van die belanghebbendes: Carel van der Merwe (NG Moedergemeente), Christo Conradie (Worcester Shopfitters), Susan van der Merwe, Monique Snyman (Intégro), Verna van Wyk (BVAPD) en André Viljoen (Intégro).

Credit: SYSTEM

Planne om ’n bababoks, ofte wel ’n Baby Saver, in De Doorns aan te bring, is goed op dreef.

Dieselfde groep wat verantwoordelik was vir die bababoks in Worcester, Die Moses Mandjie Baby Rescue, het na die gemeenskap van De Doorns uitgereik om daar die inisiatief verder voort te sit.

“Ons het Maandagaand ’n vergadering met verskeie lede van die gemeenskap asook rolspelers in De Doorns gehou. Die ontvangs van die idee was baie positief,” verduidelik Monique Snyman, een van diegene wat verantwoordelik is vir Worcester se bababoks, wat in Kerkstraat geïnstalleer is.

Voorts verduidelik sy De Doorns was nog altyd deel van die plan.

“Daar is deur die jare al soveel babalykies in De Doorns gevind. So eintlik is dit ook een van die probleemareas. Dit is uiteraard net ’n verlenging van die projek hier,” het sy gesê.

Miga Coetsee van die NG Murray-gemeente in De Doorns vat voor om die bababoks-plan te bevorder.

“Ek het tot onlangs nie geweet daar is so iets soos ’n Baby Saver nie. Totdat ds. Carel van der Merwe, wat by die Worcester Baby Saver betrokke is, daarvan vertel het,” verduidelik Coetsee.

’n Baby Saver is ’n boks wat gewoonlik in ’n muur ingebou word. Mammas wat voel hulle kan nie langer na hul baba omsien nie, kan hul baba in hierdie boks plaas. Nadat die deur van die boks toegemaak is, gaan ’n alarm af wat nooddienste en ander rolspelers in kennis stel. Die babas word dan deur paramedici ondersoek en na ’n hospitaal geneem. Daarna sal die baba in sorg geplaas word en ander belanghebbendes sal dan intree. Baby Saver SA is ’n geregistreerde organisasie sonder winsbejag.

Soos met die span van Die Moses Mandjie is sy sentiment ook dat dit nooit gebruik hoef te word nie.

“Maar as ’n mamma voel dat sy nie na haar baba kan omsien nie, sal daar dan ’n opsie wees vir haar om haar kind in die bababoks te plaas. Ons lewe nie in ’n perfekte wêreld nie en hierdie dinge gebeur egter.

“So eerder as wat ’n onskuldige lewe daaronder moet ly, sal daar ten minste ’n kans wees om ’n kind se lewe te red.”

Die groep in De Doorns is tans nog op soek na die perfekte plek om die boks te laat installeer.

Coetsee nooi ook enigeen in die gemeenskap uit om deel te wees van hierdie gemeenskapsprojek. Hy kan by die NG Murray-gemeente se kerkkantoor gekontak word by 023 356 2359.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article