Daghospitale is een van die sleutelrolspelers in die inkorting van chirurgieverwante koste.
Só het mnr. Carl Grillenberger, besturende direkteur van Advanced Health, verlede Donderdagaand by die amptelike opening van die Advanced Worcester Surgical Centre gesê.
Sowat 90 gaste het die openingsdinee by Nuy on the Hill bygewoon.
Advanced Health het reeds tien daghospitale in Suid-Afrika en wil teen 2020 altesaam 20 vestig en bestuur.
Die maatskappy besit drie daghospitale in Australië, waaronder die Chatswood privaat sesteater-hospitaal in Sydney.
Volgens die seremoniemeester en groep- bedryfsbestuurder van Advanced Health, mnr. Jaco Naude, het die Advanced Worcester Surgical Centre sedert die opening in April reeds 810 pasiënte hanteer. Die sentrum spesialiseer in snykunde wat pasiënte toelaat om op dieselfde dag as wat die operasie plaasvind huis toe te gaan.
Dit bring mee dat die daghospitaal se tariewe per minuut in die teater asook die saaltariewe aansienlik minder is as in ’n akutediens-hospitaal. Die plaaslike daghospitaal is vir onder meer oogchirurgie, ortopedie, tandheelkunde, ginekologie, urologie sowel as oor-, neus- en keelprosedures toegerus.
Grillenberger het in sy toespraak die bestuur en veral die geneeshere bedank vir die professionele wyse waarop pasiënte opgeneem en behandel word.
“By Advanced glo ons dit is ons verantwoordelikheid om ’n verskil te probeer maak aan die voortdurende prysstygings wat verbind word met gesondheidsorgdienste.
“Almal in die private gesondheidsektor behoort koste te besnoei sodat die private gesondheidsorgstelsel op lang termyn vir ons nasie behoue kan bly.”
Mnr. John Levendal, onderburgemeester van die Breedevallei-munisipaliteit, het gesê die daghospitaal is nie alleen belangrik ten opsigte van gesondheidsorg nie, maar is ook ’n groot inspuiting vir die dorp se ekonomie. Talle prosedures kan nou vinnig en meer kostedoeltreffend uitgevoer word.
• Advanced Worcester Surgical Centre is op die hoek van Fairbairn- en Russellstraat (023 880 0201).





