Jana Scheepers
Die DA het op 30 April ‘n nuwe wetsontwerp in die Parlement voorgestel om die regte van mense met gestremdhede te beskerm om saam met hul gidshonde of hulpdiere toegang by openbare en private ruimtes te verseker.
Die DA se wetsontwerp, genaamd die “Wysigingswetsontwerp op die beskerming van gedresseerde diere”, wat ook bekendstaan as die “hulpdiere-wetsontwerp”, beoog om die toegang van, onder meer, hulpdiere wat mense met siggestremdhede begelei, te beskerm, volgens ‘n verklaring deur Wendy Alexander, ‘n parlementslid, asook lid van die DA.
“Dit sal ook aanspreeklikheidsmaatreëls instel vir diegene wat onregmatig toegang weier. Niemand behoort in die toekoms daarmee weg te kom om toegang te weier nie,” het Alexander gesê.
Die DA se wetsontwerp sal ook uitvoering gee aan ‘n uitspraak van die gelykheidshof, waarin beslis is dat ‘n staatskantoor wat toegang vir iemand met haar hulpdier geweier het, onbillike diskriminasie gepleeg het.
Paarl Post het in April 2024 berig oor Yvette Palm, haar seun en haar vyfjarige dienshond, Cooper, wat help met Palm se angsaanvalle en post-traumatiese stresversteuring (PTSD), wat op 9 April by die Paarlse kantoor van die nasionale departement van binnelandse sake was waar sy deur die staatsinstelling se veiligheidsbeamptes toegang geweier is.
Volgens hierdie berig het Palm haar minderjarige seun na binnelandse sake vergesel sodat hy vir sy identifikasiedokument (ID) aansoek kon doen.
Toe Palm egter die gebou wou ingaan om na haar seun te soek, wat toe binne was, het twee sekuriteitsbeamptes haar in haar spore gekeer.
“Dit is nie ‘n gidshond nie; jy is nie blind nie,” het een van die sekuriteitsbeamptes blykbaar gesê.
Al het sy geldige dokumente verskaf wat wys dat Cooper by Paws For Life, wat hom opgelei het, as ‘n dienshond geregistreer is, is sy, na bewering, steeds nie toegelaat om in te gaan nie, volgens die berig.
Volgens Alexander se verklaring sal die voorgestelde wetsontwerp ‘n kritieke leemte in Suid-Afrika se wetgewende raamwerk vul, aangesien geen wet tans bestaan wat waarborg dat ‘n hulpdier, soos Cooper, van iemand met ‘n gestremdheid of geestesversteuring toegang tot openbare en private ruimtes en geboue sal hê nie.
“Mense met gestremdhede word elke dag in onhoudbare posisies geplaas deur die weiering van toegang aan hulself en hul hulpdiere, en dit moet ophou,” het Alexander gesê.
“Hulpdiere is nie troeteldiere of net wollerige maatjies nie – hulle is ‘n noodsaaklike hulpmiddel tot die lewe en lewensonderhoud van mense met gestremdhede en geestesversteurings, en hulle móét saam met hul eienaar toegang tot openbare en private ruimtes kry.
“Suid-Afrika se vooruitstrewende Grondwet en ons verbintenis tot menswaardigheid vereis dat ons hindernisse verwyder wat volle deelname aan die samelewing vir mense met gestremdhede belemmer.”
• Die Paarl Post het na die nasionale departement van binnelandse sake uitgereik, maar teen druktyd nog geen terugvoer ontvang nie.





